Nuus 11:00
BULLETIN 17 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie veroordeel die onlangse vlaag politieke geweld en moorde
# Trump beweer die Amerikaanse verkiesingstelsel is blootgestel aan kuberkraking, uitbuiting en buitelandse inmenging
# En motorsport: Norris is met tien wegspringplekke gestraf vir die Belgiese Grand Prix
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens veroordeel die onlangse vlaag polities-gemotiveerde moorde in aanloop tot die munisipale verkiesing in November. Meer as 15 polities-gemotiveerde sluipmoorde is tot dusver vanjaar aangemeld. Dit sluit in twee MK-partylede, ‘n DA-kandidaat in ʼn tussenverkiesing, ʼn ANC-raadslid en die EFF se sekretaris in Tshwane. Nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê politieke geweld ondermyn demokratiese wettigheid:
# United Africans Transformation sê geen president mag toegelaat word om grondwetlike parlementêre werk eenvoudig op te skort net omdat aanspreeklikheid polities ongemaklik geword het nie. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het dié week betoë aangehoor in president Cyril Ramaphosa se interdikaansoek waarin hy probeer om die ampsklagproses teen hom te vertraag. Uitspraak is voorbehou. UAT sê die hof moet die grondwetlike balans tussen die regterlike gesag en die Parlement behou deur toe te laat dat die Artikel 89-ondersoekkomitee met sy werk voortgaan.
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA het vier amptenare van Limpopo afgedank nadat hulle skuldig bevind is in verband met ʼn bedrogskema van 33-miljoen-rand. Volgens ʼn interne ondersoek het hulle die stelsel vir maatskaplike toelaes gemanipuleer terwyl hulle saam met sindikate buite die stelsel gewerk het. SASSA sê die amptenare het teen die interne tug-bevinding geappelleer, maar dis van die hand gewys weens die erns van die wangedrag en die noodsaaklikheid om staatshulpbronne te beskerm. Die agentskap sê hy handhaaf ʼn beleid van geen verdraagsaamheid teenoor bedrog en korrupsie.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê sy administrasie is besig om inligting te deklassifiseer wat dui op die skokkende kwesbaarheid van verkiesings-infrastruktuur, insluitend kuberkraking, uitbuiting en buitelandse inmenging. Hy het herhaaldelik beweer hy is verkul in 2020 se verkiesing, wat Joe Biden gewen het. Trump sê die Departement van Binnelandse Veiligheid het sowat 278-duisend buitelanders op kieserslyste gevind. Hy sê hy wil met die inligting vertroue versterk deur kwesbaarhede te ontbloot:
# Motorsport: Die heersende Formule Een-wêreldkampioen, Lando Norris, word met tien wegspringplekke gestraf in die Belgiese Grand Prix nadat die toegelate krageenheid-toewysings oorskry is. Sy McLaren sal met ʼn nuwe krageenheid toegerus wees, sy vierde hierdie seisoen, wat een meer is as wat toegelaat word sonder straf. Norris sal Sondag hoogstens in die elfde posisie kan wegspring, maar sê die opgraderings wat aangebring is, sal hopelik ʼn verskil maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-861-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-995-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….