Nuus 09:00
BULLETIN 17 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# United Africans Transformation sê Ramaphosa moet die ampsklagproses deurloop
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku oor die Ebola-uitbreking in die DRK
# En krieket: Markram en Wolvaardt stap weg met Krieket Suid-Afrika se hoogste eerbewyse
# Die United Africans Transformation sê geen president mag toegelaat word om grondwetlike parlementêre werk eenvoudig op te skort net omdat aanspreeklikheid polities ongemaklik geword het nie. Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap het die week argumente aangehoor in president Cyril Ramaphosa se interdikaansoek waarin hy probeer om die ampsklagproses teen hom te vertraag. UItspraak is voorbehou. Die UAT sê die hof moet die grondwetlike balans tussen die regterlike gesag en die Parlement behou deur toe te laat dat die artikel 89-ondersoekkomitee met sy werk voortgaan.
# Die vakverbond Cosatu sê werkgewers wat versuim het om bydraes aan pensioenfondse oor te betaal, moet aangekla en vervolg word weens diefstal, bedrog en korrupsie, en beskryf dit as massa-plundery. Volgens die jongste verslag van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor was 16-duisend-556 werkgewers teen die einde van Februarie hieraan skuldig. Cosatu-woordvoerder, Zanele Sabela, sê die agterstallige betalings beloop tans 8,33-miljard-rand, wat sowat 590-duisend werkers se toekoms in gevaar stel:
# Die Stad Johannesburg het ‘n hofbevel verkry in die Gautengse Hooggeregshof teen die Goldenrod-groep, eienaars van Marble Towers in die middestad. Dit spruit voort uit bewerings dat onwettige handel voortgaan ten spyte van ‘n vorige hofbevel waarvolgens die eienaar die gebou moet beveilig. Die burgemeester se woordvoerder, Khathutshelo Mulaudzi, sê volgens die hofbevel mag Goldenrod nie voortgaan met die oprigting van enige ander eenhede nie, of toelaat dat mense in strukture woon waar bouregulasies en brandveiligheidsvereistes nie nagekom is nie:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo het in die eerste maand vinniger versprei as enige ander uitbreking. Tot dusver is twee-duisend-273 gevalle aangemeld en 796 sterftes is in slegs twee maande opgeteken. In die 2018–2019 Ebola-uitbreking in die land het dit meer as tien maande geneem om twee-duisend gevalle aan te meld. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê die uitbreking in die DRK is nou die derde grootste op rekord:
# Krieket: Aiden Markram en Laura Wolvaardt was gisteraand by die Krieket Suid-Afrika-toekennings in Johannesburg die groot wenners toe hulle as man- en vroue-speler van die jaar aangewys is. Markram het ook die spelers se speler van die jaar-toekenning gekry. Wolvaardt is ook vereer as beste eendagwedstryd-speler, beste T20-speler en die spelers se speler van die jaar. Simon Harmer en Matthew Breetzke is onderskeidelik die mans se toets- en eendagwedstryd-speler van die jaar. Lungi Ngidi is aangewys as T20-internasionale speler van die jaar en Suid-Afrikaanse ondersteuners se speler van die jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-345-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-986-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….