Nuus 08:00
BULLETIN 17 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement reageer op klagtes oor ‘n parlementêre afvaardiging se besoek aan Rusland
# Die regering beplan om 750-miljard-rand vir Spesiale Ekonomiese Sones te lok
# En meer as 500 mense is moontlik dood nadat twee bote langs die kus van Mianmar gesink het
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Refilwe Mtshweni-Tsipane, sê hulle neem kennis van kommer van sommige politieke partye oor ‘n parlementêre afvaardiging wat tans op ‘n amptelike bilaterale werkbesoek aan Rusland is. Afgesien van een Al Jama‑ah parlementslid, bestaan die vyf lede net uit ANC-parlementslede. Die MK Party sê dis teenstrydig met die parlementêre gebruik dat afvaardigings proporsioneel verteenwoordig moet wees. Die woordvoerder van die parlement, Moloto Mothapo, sê daar sal met die gepaste parlementêre prosesse op die klagtes reageer word:
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging sê die regering wil in die huidige boekjaar beleggings van 750-miljard-rand lok vir Spesiale Ekonomiese Sones. Die sones is geografies-beplande gebiede wat infrastruktuur van wêreldgehalte, vereenvoudigde administratiewe prosesse en ‘n reeks fiskale en nie-fiskale aansporings bied om beleggings te lok en nywerheidsontwikkeling te ondersteun. Die program het tot dusver beleggings van meer as 31-miljard-rand van 224 maatskappye ontvang en meer as 28-duisend regstreekse werksgeleenthede geskep. Die departement sê hy wil die kapitaal bekom uit infrastruktuurbeleggings, instellings vir ontwikkelingsfinansiering en ander kredietverskaffers.
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê die metro het net kontant beskikbaar vir die volgende 12 dae se bedrywighede. Die metro skuld Eskom sowat 3,7-miljard-rand en Rand Water ongeveer 1,2-miljard-rand. Die metro beplan om die kragvoorsiener later die maand 1,4-miljard-rand te betaal en Rand Water 960-miljoen-rand. Johannesburg het 1,8-miljard-rand in ongemagtigde, onregmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes geregulariseer. Morero sê hulle wag op befondsing van die Tesourie, wat volgende week verwag word, om belangrike rekeninge te betaal:
Twee bote met meer as 500 mense aan boord het moontlik die afgelope dae aan die kus van Mianmar omgeslaan. Dit is volgens die Internasionale Organisasie vir Migrasie en die Verenigde Nasies se Vlugteling-agentskap. Die vaartuie het Mianmar se Rakhine-staat verlede maand verlaat met passasiers van die etniese minderheid, Rohingya, en etlike mense uit vlugtelingkampe in Bangladesj. VN-agentskappe sê indien dit geverifieer word, word nog slagoffers gevoeg by die byna 300 mense wat tot dusver vanjaar as vermis of dood aangemeld is in die Andaman-see en Golf van Bengale. Dit sluit Rohingya-vlugtelinge en Bangladesjiese burgers in.
# Gholf: Die Amerikaner, Jackson Suber, loop op vyf onder baansyfer 65 voor na die eerste rondte van die 154ste Ope Kampioenskap op Royal Birkdale in Engeland. Dis die 26-jarige Suber se ope-debuut en eerste besoek aan Europa. Hy is een hou voor Dan Brown van Engeland en die Suid-Koreaan, Im Sung-jae. Die verdedigende kampioen, Scottie Scheffler van Amerika, het geopen met twee onder 68. Rory McIlroy van Noord-Ierland het sy poging vir ʼn sewende major-titel met ʼn teleurstellende twee oor 72 begin. Suber sê hy het die eerste rondte geniet:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-637-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-996-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….