Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet die werkverrigting van sy hawens en spoorwegnetwerk verbeter as hy wil meeding met die wêreldwye vervaardigings- en uitvoermark.
# Mail & Guardian:
Skryf die sogenaamde Prime Evil, Eugene de Kock, het die maand op sosiale media ‘n handgeskrewe lys van name gedeel van die mense wat hy geweier het om dood te maak. Hy het beweer dat hy die streep getrek het.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die gedenkdiens vir die Bafana Bafana-speler, Jayden Adams wat in Stellenbosch gehou is.
En tweedens is daar nuus oor Ramaphosa se hofgeding in Kaapstad. Sy regspan het aangevoer die artikel 89-komitee het sy mandaat verkeerd verstaan.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf oor die moord op die sekretaris en verkiesingskoördineerder van die EFF in Tshwane, Monica Dube. Sipho Lucky Mahlangu het reeds in die hof verskyn in verband met die moord en die polisie sê hulle soek ‘n tweede verdagte.
# Sowetan:
Berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê hy sal elke kwitansie voorlê van hom en sy afvaardging se besoek aan die FIFA-wêreldbeker. Opposisielede bevraagteken die 31-miljoen-rand wat die minister bestee het.
# En The Citizen:
Skryf oor die gevaarlike, onhigiëniese puttoiletstelsel by skole wat nou weer ‘n partypolitieke kwessie geword het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die argumente van die verskillende partye in Ramaphosa se ampsklagsaak. Uitspraak is voorbehou.
Tweedens skryf die koerant oor die voortdurende probleme met die president se amptelike straler, Inkwazi. Die vliegtuig moes na 33 minute in die lug terugkeer lughawe toe.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC in Nelson Mandelabaai wil ontslae raak van onderburgemeester, Gary van Niekerk. Die party het ‘n mosie van wantroue teen Van Niekerk ingedien.
En tweedens skryf die koerant met die herdenking van Nelson Mandeladag môre is die meeste gedenktekens wat vir hom opgerig is in ‘n gehawende toestand.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Madlanga-kommissie het nuwe twyfel gesaai oor die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie se ondersoek na die hoof van misdaadintelligensie, luitenant-generaal Dumisani Khumalo, nadat die hoofondersoeker, Brian Padayachee, gesukkel het om te verduidelik wat die ondersoek aan die gang gesit het of hoe dit begin het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die uittredende direkteur-generaal van Namibië se Teen-korrupsiekommissie, Petrus Noa, sê die land se stryd teen korrupsie word verswak deur wetlike skuiwergate wat rekenpligtige beamptes en senior staatsamptenare in staat stel om die kommissie se aanbevelings te ignoreer.
En tweedens skryf die koerant die Otjiwarongo-distrik se mediese nooddienste het net twee ambulanse wat in ’n werkende toestand is om ’n gebied met meer as 54-duisend inwoners te bedien.