Nuus 07:00
BULLETIN 17 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa versoek mense reg oor die wêreld om ‘n regverdige en inklusiewe samelewing te bou
# BOSA vra minister Godongwana om die raad van die Openbare Beleggingskorporasie te ontbind
# En gemengde gevegskuns: Du Plessis hoop die geveg teen Usman sal sy reis terug na die wêreldtitel begin
# President Cyril Ramaphosa vra mense wêreldwyd om deernis, diens en aktiewe burgerskap te omarm en armoede en ongelykheid te beveg. Môre is dit Internasionale Nelson Mandela-dag, met die tema: “Dis steeds in ons hande om armoede en ongelykheid te bekamp”, met ‘n oproep tot aksie: “Dis nou in jou hande.” Mandela-dag moedig mense aan om 67 minute van hul tyd aan diens aan ander te wy. Ramaphosa sê mense moet help om ʼn regverdiger en meer deernisvolle samelewing te bou:
# Build One South Africa vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die Openbare Beleggingskorporasie se raad te ontbind. Dit volg nadat die uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, onlangs voorlopig geskors is na ʼn fluitjieblaser se beskuldigings van onetiese gedrag. Twee nie-uitvoerende direkteure het ook bedank weens kommer oor bestuur. BOSA sê die raad kan nie aanvoer dat hy bestuur herstel terwyl die mense wat herhaaldelik beskuldig word van wanfunksionering, interne konflik, klagtes deur fluitjieblasers en uitvoerende onbestendigheid steeds in beheer is nie.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om fase twee van die stelsel vir die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe op te skort. Hy voer aan die regering het die gewysigde wet in werking gestel voor belangrike wetlike waarborge in plek was. Andrea van Heerden van OUTA ondersteun padveiligheid, maar glo die regering moet sy wetlike en grondwetlike verpligtinge nakom voordat die nuwe stelsel by die 62 munisipaliteite afgedwing word:
# Die polisie soek na ʼn tweede verdagte in die moord op die EFF in Tshwane Streek 2 se sekretaris en verkiesingskoördineerder, Monicca Dube. Sy is verlede maand by haar huis in Wallmannsthal, noord van Pretoria, doodgeskiet. Die 35-jarige verdagte, Sipho Mahlangu, het in die Cullinan-landdroshof, oos van Pretoria, verskyn. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Dube het in Maart ʼn aanslag op haar lewe oorleef:
# Iran se ministerie van Buitelandse Sake beskuldig Amerika van oorlogsmisdade en sê hy teiken burgerlike strukture en infrastruktuur. Amerika se leër het die afgelope week talle aanvalle in Iran uitgevoer, onder meer op bevelsentrums, lugafweer-terreine en waarnemingsfasiliteite langs die kus. Dit het ook die land se vermoë om skepe in die Straat van Hormoes te bedreig, verswak. Iran het vergeldingsaanvalle uitgevoer op Amerikaanse bondgenote in die streek. Die ministerie verdedig sy aanvalle op buurlande en sê dis volgens die land se reg op selfverdediging onder internasionale wette.
# Gemengde gevegskuns: Die Suid-Afrikaanse vegter Dricus du Plessis hoop om sy reis terug na die UFC-middelgewigwêreldtitel Sondag te begin in sy geveg teen die Nigeries-Amerikaanse Kamara Usman in die Amerikaanse stad Oklahoma. Hy het sy gordel twee keer suksesvol verdedig voordat hy in Augustus verlede jaar die knie moes buig voor die Rus Khamzat Chimaev. Die 32-jarige Du Plessis dink nie ‘n oorwinning oor Usman sal genoeg wees om hom ‘n wêreldtitelgeveg te besorg nie, maar hy sal die UFC-base se aandag trek met ‘n vertoning wat enige twyfel uit die weg sal ruim dat hy die beste in die wêreld is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-657-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-988-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….