Nuus 06:00
BULLETIN 17 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika moet die voortou neem in die toekoms van voertuigvervaardiging
# Eskom reageer op die vinnig bewegende hernubare-energiemark deur Eskom Green
# En rugby: Daar is drie veranderinge aan die Bok-span vir die Junior Wêreldbeker-eindstryd
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet homself vestig as ‘n wêreldleier in toekomstige voertuigvervaardiging deur plaaslike vervaardiging uit te brei, batterywaardekettings te ontwikkel en die gebruik van kritieke minerale te verhoog. Ramaphosa het die hooftoespraak aanlyn gelewer tydens die bekendstelling van Toyota se negende generasie Hilux in KwaZulu-Natal, en sê die regering versterk aansporings, ondersteun innovering en verbeter infrastruktuur om mededingendheid in die plaaslike motorbedryf te versterk:
Die Motorbedryf-personeelvereniging doen intussen ‘n beroep op die regering om ‘n vereiste van 60-persent plaaslike inhoud af te dwing vir voertuie wat in Suid-Afrika gebou word. MISA steun die Nasionale Vereniging van Motoronderdele- en Geallieerde Vervaardigers en sê sterker plaaslike inhoud is noodsaaklik om vervaardiging te laat groei, werk te skep en plaaslike vaardighede te ontwikkel. Phakamile Hlubi-Majola van die vakbond sê motorvervaardigers wat regeringsaansporings ontvang, moet meer doen om plaaslike produksie te ondersteun en die motorbedryf help om sy teikens te bereik:
# Eskom sê die vinnig ontwikkelende hernubare-energiemark vereis ongekende kundigheid en gespesialiseerde vennootskapsmodelle wat buite tradisionele nutsstrukture staan. Die kragverskaffer het goedkeuring ontvang om voort te gaan met Eskom Green, wat as sy hernubare-energie-afdeling sal dien. Eskom Green mik daarna om teen 2040 tot 32 gigawatt te lewer. Eskom se groepsbestuurder vir hernubare energie, Rivoningo Mnisi, sê deur ‘n toegewyde, afgesonderde platform te skep, verbeter die kragverskaffer proaktief sy benadering tot ‘n dinamiese, mark-vatbare model wat ontwerp is om samewerking met die privaatsektor te verbreed en die oorgang van die nasionale netwerk te versnel.
# Die DA sê langdurende waarnemende aanstellings by die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni benadeel pasiëntesorg en verswak bestuur. Die party voer aan dat 27 senior poste, insluitend die bestuurshoof en verskeie departementshoofde, vakant bly of in ‘n waarnemende hoedanigheid gevul word. Madeleine Hicklin van die DA het die Gautengse Departement van Gesondheid versoek om permanente, gekwalifiseerde leiers aan te stel om gesondheidsorgdienste reg oor die provinsie se hospitale te verbeter:
# ‘n Italiaanse hof het die land se voormalige snelwegbestuurders tot tronkstraf gevonnis, insluitend die voormalige bestuurshoof, Giovanni Castellucci, wat 12 jaar tronkstraf opgelê is oor die Genua-brugramp. Drie-en-veertig mense is dood toe die snelwegbrug in Augustus 2018 in ‘n reënstorm met voertuie daarop ineengestort het. Castellucci, wat reeds ‘n vonnis van ses jaar uitdien vir ‘n padramp in 2013, was een van 57 beskuldigdes. Twee-en-dertig mense is skuldig bevind en vonnisse opgelê wat wissel van een jaar tot 12 jaar, terwyl 25 mense óf vrygespreek óf onskuldig bevind is.
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote het drie veranderinge aangebring aan die span wat Engeland in die Junior Wêreldkampioenskap-halfeindstryd geklop het. Vir môre se eindstryd teen Frankryk in Tbilisi het hy twee aanpassings aan sy voorspelers gemaak, met Wasi Vyambwera wat op nommer 8 uitdraf, en Gert Kemp wat na die bank skuif om as impakspeler op te kom. Risima Khosa begin op flank en Alzeadon Felix kom in op heelagter vir Luan Giliomee, wat ‘n rooi kaart teen Engeland ontvang het. Die afskop is om half-sewe môreaand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-73-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-976-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….