Nuus 17:00
BULLETIN 16 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwelkom Toyota se belegging van tien-miljard-rand in Hilux
# Die Nasionale Kernreguleerder ondersoek drie voorvalle van radioaktiewe besoedeling by Koeberg
# En die Bafanakaptein Ronwen Williams beloof om Jayden Adams se nalatenskap te vereer
# President Cyril Ramaphosa her Toyota Suid-Afrika se belegging van tien-miljard-rand in die negende generasie Hilux verwelkom en beskryf dit as ‘n sterk mosie van vertroue in die land se ekonomie. Ramaphosa het aanlyn gepraat tydens die amptelike bekendstelling by die Prospecton-aanleg in KwaZulu-Natal en gesê die belegging sal werksgeleenthede ondersteun, plaaslike vervaardiging versterk en uitvoere bevorder. Hy het ook die regering se verbintenis herbevestig tot die verbetering van infrastruktuur, die bevordering van plaaslike vervaardiging en die skep van ‘n bestendige omgewing om verdere beleggings te lok:
# Die Nasionale Kernreguleerder ondersoek drie voorvalle van radioaktiewe besoedeling wat gedurende die afgelope twee weke tydens instandhoudingswerk in eenheid twee van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad voorgekom het. Die reguleerder sê die besoedeling was beperk tot beheerde gebiede in die reaktorgebou en het geen gevaar vir die publiek of die omgewing ingehou nie. News24 berig werkers is gemonitor en hul blootstelling aan bestraling was ver onder die voorgeskrewe veiligheidsperke. Eenheid twee is steeds vanlyn vir geskeduleerde instandhouding en sal na verwagting in September weer in diens gestel word.
# Die kaptein van Bafana Bafana en Mamelodi Sundowns, Ronwen Williams, het belowe om die nalatenskap van spanmaat Jayden Adams lewend te hou. Williams het Adams by sy gedenkdiens in Stellenbosch beskryf as nederig, respekvol en ‘n inspirasie op die veld en van die veld af beskryf. Hy het Adams se prestasies vir klub en land geprys, insluitend die CAF Kampioeneliga, die FIFA Wêreldbeker en die Afrikabeker van Nasies. Williams het gesê Suid-Afrikaanse sokker sal Adams se nagedagtenis vir ewig koester:
# Twee bote met meer as 500 mense aan boord het moontlik onlangs omgeslaan naby Mianmar se kus. Die Internasionale Organisasie vir Migrasie en die Verenigde Nasies se Vlugtelingagentskap sê hoewel die feite nog bevestig moet word, is hulle bekommerd oor moontlike lewensverlies. Rohingya-Moslems waag reeds jare hul lewens op onveilige houtbote om veiligheid te probeer bereik in Maleisië, Indonesië en Thailand. Byna 900 vlugtelinge het verlede jaar in die Andaman-see en die Baai van Bengale gesterf, wat dit die dodelikste seevaartroete vir vlugtelinge en migrante ter wêreld maak.
# Sokker: Argentinië se kaptein, Lionel Messi, is die oorweldigende gunsteling om die Wêreldbekertoernooi se Goue Bal-toekenning te wen na sy span se halfeindstryd-oorwinning van 2-1 oor Engeland. Die voorspellings-markplatform Kalshi gee Messi nou ‘n 84 persent-kans om aangewys te word as die toernooi se beste speler. Rodri van Spanje is tweede op vyf-persent en Jude Bellingham van Engeland volg op vier-persent. Lamine Yamal van Spanje se kans is drie-persent, terwyl Frankryk se kaptein, Kylian Mbappé, ‘n kans van twee-persent het voor die eindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-930-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-977-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 84-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….