Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met sokker: Die heersende kampioen, Argentinië, het twee laat doele aangeteken om Engeland 2-1 te klop in hulle Wêreldbeker-halfeindstryd in Atlanta, en speel Sondag in die eindstryd teen Spanje. Anthony Gordon het Engeland laat voorloop, maar Enzo Fernandez het in die 85ste minuut sake gelykop gemaak voor die plaasvervanger, Lautaro Martinez, die wendoel in die 92ste minuut behaal het. Argentinië probeer die eerste span word wat agtereenvolgende Wêreldbekers wen sedert Brasilië in 1958 en 1962. Engeland en Frankryk speel Saterdag in Miami in die uitspeelstryd om derde plek.
Nog sokkernuus: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, erken dit was moeilik om ‘n finale groep saam te stel vir die Afrikabekertoernooi vir vroue in Marokko. Die groep van 26 word môre aangekondig uit die voorlopige groep van 31 wat tans ‘n oefenkamp bywoon. Suid-Afrika is saam met die Ivoorkus, Burkina Faso en Tanzanië in Groep B. Ellis sê dis belangrik om veelsydige spelers te kies wat verskeie rolle kan vervul:
# Gholf: Agt Suid-Afrikaners neem deel aan die 154ste Britse Ope wat vanoggend op Royal Birkdale in Engeland afgeslaan het. Hulle is Hennie du Plessis, Casey Jarvis, Jayden Schaper, Michael Hollick, Shaun Norris, MJ Daffue, Jack Buchanan, en Aldrich Potgieter, wat die beseerde Louis Oosthuizen se plek aan die toernooi oorneem. Dit is die elfde keer dat hierdie major op die baan in Merseyside gespeel word. Scottie Scheffler van Amerika het verlede jaar die toernooi op Royal Portrush in Noord-Ierland gewen.
# Tennis: Die sewemalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, wil volgende maand sy terugkeer maak op die Cincinnati-ope. Hy is op die inskrywingslys ingesluit. Die Spanjaard was sedert April buite aksie nadat hy sy polsgewrig beseer het in die eerste ronde van die Barcelona-ope. Dit het hom gedwing om aan toernooie in Madrid en Rome te onttrek, en hy het ook Roland Garros en Wimbledon misgeloop. Alcaraz het die Cincinnati-ope verlede jaar gewen. Sy wen/verloor-rekord in dié toernooi is 12–4.
# En rugby: Die mees ervare vroue-toets-skeidsregter, Aimee Barrett-Theron, het ‘n blaaskans geneem nadat sy met borskanker gediagnoseer is. Die 39-jarige Suid-Afrikaner het reeds 52 toetse hanteer. Sy was verlede maand skeidsregter in die wedstryd tussen Suid-Afrika ‘A’ en Zimbabwe in Gqeberha. Barrett-Theron sê sy is vasbeslote om ná haar behandeling en herstel as ʼn sterker persoon na die veld terug te keer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….