Nuus 14:00
BULLETIN 15 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala vra die Madlanga-kommissie om sy getuienis uit te stel
# Een-en-negentig ongedokumenteerde buitelanders is onder 105 vermeende onwettige mynwerkers wat in Mpumalanga aangekeer
# En kanovaart: Dis die jong bloed teen die ou garde in die Bergrivier-marathon
# Die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het die Madlanga-kommissie gevra om sy getuienis vir twee weke uit te stel. Sy regsverteenwoordiger, Annelene van den Heever, het tydens ‘n hewige woordewisseling met kommissaris Sesi Baloyi aangevoer Matlala kan nie getuig voor ondersoekers dokumente verskaf oor sy mislukte pleitonderhandelings nie. Sy sê dit kan sy grondwetlike regte en strafregtelike verdediging ondermyn, en hou vol die uitstaande dokumente is noodsaaklik:
# Een-en-negentig ongedokumenteerde buitelanders is onder 105 mense wat aangekeer is tydens ‘n optrede teen onwettige mynbou in Mpumalanga. Hulle is in hegtenis geneem by verskeie brandpunte in die provinsie vir beweerde onwettige mynbedrywighede, oortreding van immigrasie-wetgewing en besit van vermeende gouddraende materiaal. Die operasie tussen die polisie en ander wetstoepassings-agentskappe is deel van voortgesette pogings om onwettige mynbou-sindikate uit te roei en openbare veiligheid te verbeter.
# Cosatu sluit aan by die mynwerkersvakbond N-U-M en veroordeel De Beers se besluit om produksie by sy Venetia-myn in Limpopo vir twee jaar te staak en ‘n Artikel 189A-kennisgewing uit te reik wat een-duisend-214 werkers se voortbestaan bedreig. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die onderneming is lank reeds bewus van die uitdagings in die diamantbedryf, insluitend lae pryse en die stygende vraag na sintetiese diamante:
Nuus uit die buiteland:
# China se Nasionale Buro vir Statistiek sê toenemende eksterne onsekerheid en onbestendigheid het daartoe bygedra dat die ekonomie in die tweede kwartaal stadiger gegroei het as wat verwag is. Bruto binnelandse produk-syfers toon die wêreld se tweede grootste ekonomie het met 4,3-persent gegroei, minder as die verwagte 4,5-persent. Dit volg nadat China die jaar begin het met ‘n sterker as verwagte ekonomiese groei van vyf-persent in die eerste kwartaal. Die buro het ook ‘n wanbalans tussen ‘n sterk aanbod en swak vraag in die binnelandse ekonomie getoon.
# Kanovaart: Die ou garde en die nuwe geslag pak mekaar vanjaar in die Bergrivier-marathon, wat vanoggend in die Paarl in die Boland begin het. Deelnemers moet oor vier dae ‘n uitmergelende roete van 240-kilometer aflê voor hulle Velddrif aan die Weskus bereik. Twee belowende onder-23-roeiers wat hierdie seisoen sterk vertonings in Wes-Kaapse rivier-vaarte gelewer het, Neriyah Dill en Joshua Glyn-Cuthbert, word onderskeidelik as gunstelinge vir die vroue- en die manswedvaart beskou. Die 14-malige en verdedigende kampioen, Hank McGregor, neem nie vanjaar deel nie, wat die manswedvaart wawyd oopstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-631-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-27-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….