Nuus 13:00
BULLETIN 15 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika versterk sy Ebola-voorbereiding al is daar geen bevestigde gevalle nie
# Die dodetal in die winter-inlywingseisoen styg tot 43
# En sokker: Die DA verskerp sy ondersoek na minister McKenzie se Wêreldbeker-uitgawes
# Die Departement van Gesondheid sê nie vrees nie, maar wetenskap lei Suid-Afrika se voorbereidings vir ‘n moontlike Ebola-uitbreking. Geen gevalle is plaaslik bevestig nie, maar owerhede versterk toesig- en reaksiemaatreëls namate uitbrekings in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda voortduur. Minister Aaron Motsoaledi sê 12 privaat en 24 openbare hospitale is aangewys om moontlike gevalle te bestuur. Hy sê Ebola versprei deur regstreekse kontak met besmette liggaamsvloeistowwe en nie deur die lug nie.
# Die dodetal in die winter-inlywingseisoen het tot 43 gestyg. Owerhede sê 58 onwettige inlywingskole is gesluit en 40 mense is in hegtenis geneem as deel van ‘n landwye operasie. Die regering vra ouers en gemeenskappe om te verseker slegs geregistreerde skole wat aan gesondheids- en veiligheidstandaarde voldoen word bygewoon. Beamptes sê operasies sal voortduur om verdere sterftes te voorkom, terwyl ondersoeke na die sterftes en beweerde onwettige praktyke ook steeds voortgaan.
# Die Vryemarkstigting sê die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria in die saak tussen die Pretoriase prokureursfirma Len Dekker en die Finansiële Intelligensiesentrum herbevestig die oppergesag van die reg. Die hof het bevind die sentrum het sy bevoegdhede oorskry deur boetes op die firma te hef vir ‘n tydperk voor hy wettig gemagtig was om dit te doen. Brian Benfield van die stigting sê die uitspraak beklemtoon die behoefte aan bewysgebaseerde afdwinging, binne die perke van die wet.
# Forum for South Africa sê Suid-Afrikaners stel nie belang in koste-vergelykings by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie, maar tasbare optrede. Die uitstaande skuldlas in die naskoolse onderwysstelsel staan op 59-miljard-rand, waarvan 29-miljard-rand dié van NSFAS-befondste studente is. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die regering se optrede moet tot beter dienslewering, skoon oudits, aanspreeklikheid en doeltreffende ondersteuning vir studente lei:
# Sokker: Die DA eis dat die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, voor die Parlement verslag doen oor sy departement se uitgawes vir die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Die departement het ‘n geraamde 31-miljoen-rand bestee aan sy afvaardiging en programme vir die toernooi. DA-woordvoerder Leah Potgieter sê ʼn algemene patroon van misleidende beloftes, irrasionele besluite en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid het sigbaar geword tydens McKenzie se termyn:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-810-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-29-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….