Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die Europese kampioen, Spanje, is deur na die Wêreldbeker-eindstryd nadat hy Frankryk in Dallas 2-0 verslaan het. Mikel Oyarzabal se strafskop en ‘n doel deur Pedro Porro het Spanje se oorwinning beklink. Dit ewenaar Italië se rekord vir die langste onoorwonne lopie van 37 wedstryde in internasionale sokker. Spanje kom in Sondag se eindstryd te staan teen Engeland of die verdedigende kampioen, Argentinië. Frankryk sal Saterdag meeding vir derde plek om ʼn einde te bring aan afrigter Didier Deschamps se termyn van 14 jaar.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, waarsku dat Wallis Saterdag gevaarlik kan wees juis omdat hulle heel laaste op die Nasieskampioenskaps-ranglys is. Suid-Afrika mik na ‘n derde oorwinning in die kompetisie nadat hulle reeds met Engeland en Skotland afgereken het. Wallis het vir Fidji geklop, maar teen Argentinië verloor. Suid-Afrika het Wallis in November verlede jaar sy grootste tuis-nederlaag ooit van 73-0 toegedien. Davids sê Wallis is nogtans ʼn baie mededingende span:
Intussen sit die voormalige Walliese losskakel Dan Biggar nie sy geld op sy landgenote wanneer hulle teen Suid-Afrika speel nie. Die Springbokke is bo-aan die wêreldranglys terwyl Wallis in die twaalfde plek is – die laagste-geplaasde span in die kompetisie. Biggar sê die Rooi Drake het werk nodig in sekere afdelings, veral in verdediging nadat hulle verlede naweek teen Argentinië verloor het. Hy sê die wêreldkampioen, wat reeds 13 drieë in die kompetisie gedruk het, sal beslis Wallis se verdediging toets.
# Atletiek: Zakithi Nene van Suid-Afrika het derde geëindig in die mans 400-meter tydens Wêreldatletiek se laaste Goue Kontinentale Toer-byeenkoms in Boedapest. Hy het in 44,57 sekondes klaargemaak, agter Zambië se Statebondspele-kampioen, Muzala Samukonga, en die Hongaar Attila Molnár. Emmanuel Eseme van Kameroen het die mans 100-meter gewen. Akani Simbine van Suid-Afrika en Nishion Ebanks van Jamaika was gesamentlik vierde met ‘n tyd van 10,05 sekondes. Julien Alfred het die vroue 100-meter gewen met Tina Clayton en Brianna Lyston, albei van Jamaika, kort op haar hakke.
# En krieket: Indië loop 1-0 voor in die eendagreeks van drie wedstryde teen Engeland na ʼn oorwinning met ses paaltjies op Edgbaston. Axar Patel het vier paaltjies laat kantel en Engeland help uitboul vir 258, ondanks Joe Root se onoorwonne 76. Kaptein Shubman Gill se 80 van 75 balle en ʼn vennootskap van 102 lopies tussen Patel en Washington Sundar het Indië se oorwinning beklink met meer as vier boulbeurte oor. Dis Engeland se sewende nederlaag in sy laaste tien eendagwedstryde. Die tweede kragmeting vind môre in Cardiff plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….