Nuus 08:00
BULLETIN 15 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rand is onder druk te midde van wêreldwye markonsekerheid
# Meer as 100 munisipale amptenare staar tugstappe in die gesig oor onreëlmatige uitgawes
# En sokker: Spanje is deur na die Wêreldbeker-eindstryd nadat hulle Frankryk verslaan het
# Die Suid-Afrikaanse rand het tot sy laagste vlak in byna drie weke verswak namate stygende spanning in die Midde-Ooste die Amerikaanse dollar versterk en verwagtinge van hoër Amerikaanse rentekoerse verhoog het. Die rand het gister net onder 16-rand-50-sent teenoor die dollar verhandel voor die vrystelling van Suid-Afrika se mynbouproduksiesyfers en belangrike Amerikaanse inflasiedata. Hoër oliepryse en onsekerheid oor globale markte het druk op ontluikende markgeldeenhede geplaas.
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van misdadige insypeling in die regstelsel ondersoek, het die meeste hoëprofiel-getuies vrygespreek van enige misdadige optrede of bande met kartelle in die ontbinding van die taakspan oor politieke moorde. Die komitee het gister sy voorlopige verslag bespreek waarin geen bevindings gemaak is teen mense soos die minister van Polisie, Senzo Mchunu, en die geskorste nasionale adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, nie. Khusela Sangoni van die ANC sê sommige aanbevelings in die verslag is vermoedelik afgewater in die opstelproses:
# Die Oos-Kaapse regering sê tugprosesse is ingestel teen sowat 100 amptenare in Buffalo City oor onregmatige en ongemagtigde besteding. Die Nasionale Tesourie het 69 munisipaliteite in die land se Julie-befondsing weerhou. Dit sluit ses in die Oos-Kaap in: Buffalo City, Nelson Mandelabaai, Makana, Sondagsrivier-vallei, Inxuba Yethemba en Port St Johns. Die provinsie se LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Williams, sê sonder die befondsing sal munisipaliteite soos Makana kontantvloei-probleme hê:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het gedreig om Iranse kragsentrales en brûe volgende week aan te val indien Teheran nie ‘n ooreenkoms sluit nie. Dit volg nadat die Amerikaanse weermag gister sy vierde agtereenvolgende dag van aanvalle op Iranse teikens. Teheran het op sy beurt Amerikaanse militêre bates in Jordanië aangeval. Trump het in n onderhoud met Fox News herhaal dat Iran geen ander keuse het as om ‘n ooreenkoms aan te gaan nie:
# Sokker: Die Europese kampioene, Spanje, is deur na die Wêreldbeker-eindstryd nadat hulle Frankryk in Dallas met 2-0 verslaan het. Mikel Oyarzabal se strafskop en ‘n doel deur Pedro Porro het Spanje se oorwinning beklink. Dit ewenaar Italië se rekord vir die langste onoorwonne lopie van 37 wedstryde in internasionale sokker. Spanje kom in Sondag se eindstryd óf teen Engeland te staan, wat hulle in die Euro 2024-eindstryd geklop het, óf teen die wêreldkampioene, Argentinië. Frankryk sal Saterdag meeding vir derde plek om ʼn einde te bring aan Didier Deschamps se termyn van 14 jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-565-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-31-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….