Nuus 06:00
BULLETIN 15 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof sal vandag Ramaphosa se dringende aansoek oor sy ampsklagprosedures aanhoor
# Donald Trump trek sy voorgestelde 20-persent-tolgeld in die Straat van Hormoes terug
# En die Nasionale Bloeddiens moedig welwillendheid aan wat langer as 67 minute duur
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal vandag en môre president Cyril Ramaphosa se dringende versoek aanhoor om die werk van die Parlement se Ampsklagkomitee te staak totdat sy hersieningsaansoek van die Artikel 89-paneel se bevindinge afgehandel is. In November 2022 het die paneel prima facie bewyse gevind dat Ramaphosa moontlik die Grondwet oortree het en ernstige wangedrag gepleeg het oor die Phala Phala-saak. In sy aansoek voer Ramaphosa aan dat die toelating van die ondersoekproses om voort te gaan terwyl die paneelverslag se regsgeldigheid steeds betwis word, onherstelbare politieke en reputasieskade kan meebring.
# Die Ministerie van Hoër Onderwys en Opleiding sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se huidige bestuur maak gebruik van ‘n meer vaartbelynde en kostedoeltreffende model vir tegniese ondersteuning as vorige bestuurstrukture. Die woordvoerder van die ministerie, Matshepo Seedat, sê vier spesialisadviseurs kos bykans tien-miljoen-rand-per jaar en is aangestel om te help om bestuur te herstel, finansiële beheer te versterk en dienste vir studente te verbeter. Seedat het bygevoeg die administrasie is steeds gefokus op die herbou van openbare vertroue in die skema:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê ‘n volledige ondersoek na die ineenstorting van ‘n muur by die Nazareth Baptiste Kerk in Inanda, KwaZulu-Natal, moet voltooi word voordat konstruksie hervat word. Agt mense is Maandag beseer, met vier steeds in die hospitaal, toe ‘n keermuur ineengestort het. Macpherson het na ‘n besoek aan die terrein gesê die Shembe-kerk ondersteun ‘n ondersoek deur die Raad vir die Bou-omgewing om die oorsaak te bepaal:
# President Donald Trump het sy dreigement om ‘n 20-persent-fooi te hef op skepe wat deur die Straat van Hormoes vaar teruggetrek. Hy het gesê as Iran wil wins maak uit die belangrike olieskeepsroete, moet Amerika ook vergoed word vir die versekering van internasionale handel in die Golf. In ‘n plasing op Truth Social sê Trump die tolgeld sal vervang word deur beleggings in die VSA deur Arabiese lande in die Persiese Golf. Hy hou egter vol dat die straat oop is vir alle lande se skepe behalwe Iran.
# Rugby: Die voormalige Walliese losskakel Dan Biggar, steun nie sy landgenote wanneer hulle hierdie naweek in ‘n Nasieskampioenskapswedstryd in Durban teen Suid-Afrika te staan kom nie. Die Springbokke is bo-aan die wêreldranglys terwyl Wallis in die twaalfde plek, die laagste geplaasde span in die kompetisie is. Biggar sê die Rooi Drake het werk nodig in sekere afdelings, veral in verdediging nadat hulle verlede naweek teen Argentinië verloor het. Hy sê die wêreldkampioene, wat tot dusver 13 drieë in die kompetisie gedruk het, sal beslis Wallis se verdediging toets.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-859-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-49-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-3-sent per vat.
# En laastens: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens moedig Suid-Afrikaners aan om hul 67 minute hierdie Mandela-dag te gebruik om bloed te skenk. Die bloeddiens sê een skenking kan tot drie lewens red en doen ‘n beroep op meer mense, veral eerstekeer-skenkers, om lewensredders te word. Die organisasie sê die skenkingsproses is veilig, eenvoudig en neem minder as 67 minute, maar kan ‘n blywende verskil landwyd maak vir pasiënte in nood.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….