Nuus 17:00
BULLETIN 14 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee vragverenigings sluit ‘n vennootskap om Suid-Afrika se vragsektor te versterk
# AmaZulu Koning Misuzulu, onthef weer die tradisionele eerste minister, Thulasizwe Buthelezi van sy pos
# En, sokker: Kylian Mbappé van Frankryk en Lamine Yamal van Spanje is die groot trekpleisters in die Wêreldbeker-halfeindstryd
# Die Padvragvereniging en die Suid-Afrikaanse Vrag- en Logistieke Vereniging het ‘n ooreenkoms van verstandhouding onderteken om samewerking in die vrag- en logistieke sektor te versterk. Dit fokus op doeane-modernisering, grens-digitalisering, bemiddeling van handel en die vermindering van voorsienings-kettingskoste. Die Padvragvereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê dit sal skakeling met die regering en die Inkomstediens verbeter, en ‘n gekoördineerde benadering van die privaat sektor bevorder om sy uitdagings te hanteer:
# Die DA doen ‘n beroep op die polisiekommissaris van Gauteng, Tommy Mthombeni, om gespesialiseerde polisie-eenhede te ontplooi om toenemende bendegeweld regoor die provinsie te bestry. Michael Sun van die party sê 258 mense is oor die afgelope vier jaar vermoor en 408 het pogings tot moord oorleef in aanvalle wat verband hou met bendegeweld. Sun het die Gauteng regering gekritiseer vir onvoldoende befondsing om bendes te beveg en het ‘n beroep gedoen op intelligensie-gedrewe polisiëring, teen-bende-ondersoeke en die verwydering van onwettige vuurwapens:
# Die AmaZulu-koning, Misuzulu kaZwelithini, het eerwaarde Thulasizwe Buthelezi weer onthef van sy pos as tradisionele eerste minister van die Zoeloe-nasie. Die koning sê in ‘n verklaring die besluit is geneem ingevolge die aanstellingsooreenkoms wat in Desember onderteken is. Die adjunk-tradisionele eerste minister, Inkosi Phathisizwe Chiliza, is met onmiddellike ingang as Buthelezi se plaasvervanger aangestel. Die koning het Buthelezi bedank vir sy diens en die koninklike huis, amakhosi en die Zoeloe-nasie gevra om Chiliza te ondersteun.
# Die Kremlin sê veiligheidswaarborge vir Oekraïne is nie moontlik sonder Russiese deelname nie. Die Duitse kanselier, Friedrich Merz, het vroeër gesê Moskou behoort geen rol te speel in die opstel van sulke reëlings nie en dit moet deur Oekraïne en sy bondgenote beslis word. Die Kremlin se woordvoerder, Dmitri Peskov, sê dit toon duidelik Europese regerings se standpunt oor die oorlog. Oekraïne sê hy het veiligheidswaarborge van die Weste nodig om hom teen toekomstige Russiese aanvalle te beskerm. Rusland beheer tans sowat ‘n vyfde van Oekraïnse grondgebied.
# Sokker: Kylian Mbappé van Frankryk en Lamine Yamal van Spanje is die groot trekpleisters in vanaand se Wêreldbeker-halfeindstryd in Dallas, Texas. Dis Yamal se eerste toernooi en Mbappé se derde, en die eerste keer ooit dat die twee buurlande in die voorlaaste ronde ontmoet. Hulle enige ander kragmeting in die toernooi wat in die ronde van 16 in 2006. Spanje het al in twee halfeindstryde gespeel en Frankryk in agt. Die wenner speel Sondag in die eindstryd in New Jersey teen Argentinië of Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-814-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-78-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 85-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….