Nuus 13:00
BULLETIN 14 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lykskouings onthul Tshuma se gesin is dood weens stomp geweld
# De Beers skort produksie op by Suid-Afrika se grootste diamantmyn
# En rugby: Die beseerde Walliese kaptein gaan Saterdag se kragmeting met die Bokke misloop
# Forensiese lykskouings het bevestig die vrou en dogters van ‘n Zimbabwies-Britse burger is in Engeland dood weens stomp geweld. Die liggame van Nothabo, Natalie en Nala Tshuma is verlede Maandag in hulle huis in Bedfordshire gevind. Nothabo se man, Ndodana, is Vrydag in Johannesburg aangekeer nadat hy uit Brittanje gevlug het. Hy bly in aanhouding nadat hy in die plaaslike Landdroshof verskyn het in verband met onwettige besit van ‘n vuurwapen terwyl sy uitlewering aan Brittanje oorweeg word. Die saak is uitgestel terwyl Tshuma se immigrante-status nagegaan word.
# De Beers het aangekondig hy gaan produksie by Suid-Afrika se grootste diamantmyn, sy Venetia-myn in Limpopo, vir twee jaar opskort as deel van ‘n kostebesparings- en herstruktureringsplan. News24 berig die myn, wat ongeveer 40-persent van die land se diamante vervaardig, sal die tyd gebruik om belangrike ondergrondse infrastruktuur op te knap terwyl Anglo American voortgaan met pogings om sy belange in De Beers te verkoop. Die onderneming sê werknemers wat geraak is sal ondersteun word, en produksieteikens sal deur sy ander bedrywighede gehandhaaf word.
# ActionSA sê die ineenstorting van die Stad Johannesburg se munisipale rekeningstelsel is nie net ‘n administratiewe beslommernis nie, maar ʼn fundamentele mislukking van die verhouding tussen die stad en die mense wat hy dien. Inwoners loop toenemend deur onder verwarrende munisipale rekeninge, onverklaarde agterstallige saldo’s en dreigemente dat dienste gestaak sal word. Woordvoerder Mpumi Edward sê inwoners betaal vir dienste wat stadsbestuur veronderstel is om doeltreffend en deursigtig te lewer:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het beloof om die Internasionale Strafhof te vernietig en beskuldig hom dat hy oorlog voer teen Amerika. President Donald Trump se administrasie het reeds ‘n reeks sanksies teen hofamptenare ingestel oor hul pogings om ondersoek in te stel na Amerika en Israel. Rubio beweer die hof word gesteun en beheer deur ‘n magtige netwerk van linksgesinde nie-regeringsorganisasies, selfvoldane globaliste en vyandige Derdewêreld-regerings:
# Rugby: Wallis se kaptein, Dewi Lake, gaan Saterdag se Nasieskampioenskaps-kragmeting met Suid-Afirka in Durban misloop. Hy het verlede naweek ‘n liesbesering opgedoen tydens die nederlaag van 35-31 teen Argentinië. Lakes het in al elf toetse gespeel sedert afrigter Steve Tandy verlede jaar oorgeneem het. Ryan Ellis, wat moontlik die eerste keer in die opdrafspan kan wees sedert die openingsronde van 2024 se Sesnasies-reeks teen Skotland, sal waarskynlik in die nommer twee-trui speel, met Elliot Dee as plaasvervanger. Jac Morgan sal die kapteinskap oorneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-608-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-18-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….