Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Wallis se kaptein, Dewi Lake, gaan Saterdag se Nasieskampioenskaps-kragmeting met Suid-Afirka in Durban misloop. Hy het verlede naweek ‘n liesbesering opgedoen tydens die nederlaag van 35-31 teen Argentinië. Lakes het in al elf toetse gespeel sedert afrigter Steve Tandy verlede jaar oorgeneem het. Ryan Ellis, wat moontlik die eerste keer in die opdrafspan kan wees sedert die openingsronde van 2024 se Sesnasies-reeks teen Skotland, sal waarskynlik in die nommer twee-trui speel, met Elliot Dee as plaasvervanger. Jac Morgan sal die kapteinskap oorneem.
Nog rugbynuus: Die verdedigende kampioen, die Junior Springbokke, is deur na die eindstryd van die Junior Wêreldkampioenskap nadat hulle Engeland 53-37 afgeransel het in Tbilisi, Georgië. Kevin Foote se manne het sewe drieë gedruk. Die vleuel Khuthadzo Rasivhaga het drie keer oorgeduik en die losskakel Yaqueen Ahmed het 23 punte bygedra. Suid-Afrika en Frankryk sal Saterdag in die eindstryd kragte meet nadat die Franse die Baby Blacks in die ander halfeindstryd naelskraaps 26-22 geklop het. Engeland en Nieu-Seeland sal sake uitspook vir derde plek.
# Gholf: Louis Oosthuizen van Suid-Afrika het weens ‘n rugbesering onttrek aan die 154ste Britse Ope en LIV Gholf se Verenigde Koninkryk-geleentheid in Rocester. Die 43-jarige Oosthuizen, wat die Ope in 2010 op St Andrews gewen het, sê hy fokus nou op sy herstel sodat hy kan terugkeer. Die Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter sal hom vervang as die eerste alternatief vir die Ope wat Donderdag op Royal Birkdale in Engeland begin. Die Duitser Matti Schmid en die Brit Andrew Wilson is nou die eerste en tweede alternatiewe.
# Sokker: Die Wêreldbekertoernooi het die voorlaaste ronde bereik met vier voormalige kampioene wat nog oorbly. Die tweemalige kampioen, Frankryk, en 2010 se kampioen, Spanje, pak mekaar vanaand in die eerste halfeindstryd in Dallas, Texas. Môreaand kom die verdedigende en driemalige kampioen, Argentinië, in Atlanta te staan teen 1966 se wenner, Engeland. Die uitspeelstryd om derde plek word Saterdag in Miami beslis, en Sondag gaan die wenners van die twee halfeindstryde mekaar in New York die stryd aansê om die gesogte goue beker.
# En krieket: Brendon McCullum het verskoning gevra vir Engeland se swak toetsuitslae teen die einde van sy termyn as afrigter. Die Nieu-Seelander is as toets-hoofafrigter afgedank na ‘n teleurstellende nederlaag van 4-1 in die reeks om die As in Australië, en agt nederlae in die laaste 12 toetse. McCullum bly aan by die witbalspanne. Hy sê krieketsukses berus op uitslae en ongelukkig kon hulle nie bereik wat hulle wou nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….