Nuus 11:00
BULLETIN 14 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa vra groter samewerking terwyl sterftes tydens die winter-inlywingstydperk tot 35 styg
# Trump sê ‘n ooreenkoms met Iran is steeds moontlik ondanks hernude aanvalle
# En gholf: Die beseerde Louis Oosthuizen onttrek aan die Britse Ope en word deur Aldrich Potgieter vervang
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die voortgesette lewensverlies en voorvalle tydens tradisionele inlywing-seisoene is kommerwekkend. In vanjaar se winter-seisoen is 35 jong mans dood, 75 het in die hospitaal beland en 180 is uit onwettige inlywingskole gered. Twaalf ontvoerings is aangemeld, en 40 mense is in hegtenis geneem in 130 strafsake. Woordvoerder Pearl Maseko-Binqose sê meer moet gedoen word om voorkombare sterftes, beserings en misdadige bedrywighede te voorkom:
# Public Interest South Africa sê die herhaaldelike versuim van sleutelgetuies om voor die Madlanga-kommissie te verskyn, dikwels weens skielike mediese noodgevalle, is ‘n bron van kommer. Die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, het nie gister getuig nie omdat sy onverwags in die hospitaal opgeneem is. Sy is nou een van vele getuies wat kort voor hul verskyning siek geword het. Die belangegroep sê indien omstandighede dit regverdig, moet die kommissie onafhanklike mediese bevestiging laat doen om te verseker dat uitstel geregverdig is en nie die publiek se vertroue ondermyn nie.
# Die polisie het verlede week 13-duisend-en-20 verdagtes weens verskeie oortredings aangekeer tydens landwye Shanela-operasies. Onder hulle is een-duisend-886 weens ernstige en geweldsmisdade soos moord, verkragting, gewapende roof en kaping. Woordvoerder Amanda van Wyk sê twee-duisend-en-89 onwettige immigrante is aangekeer, 801 van hulle in Gauteng:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, glo steeds ‘n ooreenkoms met Iran is moontlik ondanks hernude militêre optrede. Die Amerikaanse Weermag het ‘n derde agtereenvolgende nag aanvalle teen Teheran uitgevoer op militêre instellings, insluitend kusmoniteringstelsels en hommeltuig- en missielvermoëns. Iran se Islamitiese Revolusionêre Wag het verskeie wapenondersteunings-pakhuise verwoes, asook ‘n satelliet-kommunikasiesentrum en ‘n gebou wat Amerikaanse magte in Bahrein huisves. Trump sê Amerika sal voortgaan met aanvalle tot die bedreiging weg is:
# Gholf: Louis Oosthuizen van Suid-Afrika het weens ‘n rugbesering onttrek aan die 154ste Britse Ope en LIV Gholf se Verenigde Koninkryk-geleentheid in Rocester. Die 43-jarige Oosthuizen, wat die Ope in 2010 op St Andrews gewen het, sê hy fokus nou op sy herstel sodat hy kan terugkeer. Die Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter sal hom vervang as die eerste alternatief vir die Ope wat Donderdag op Royal Birkdale in Engeland begin. Die Duitser Matti Schmid en die Brit Andrew Wilson is nou die eerste en tweede alternatiewe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-529-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-27-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….