Nuus 08:00
BULLETIN 14 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA stel ‘n nuwe sperdatum oor dwangarbeidprodukte
# Die DA eis antwoorde oor die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente
# En, Iran tref twee tenkskepe van die Verenigde Arabies Emirate in die Straat van Hormoes met missiele
# Die Amerikaanse Handelskantoor het Suid-Afrika en 59 ander lande tot Donderdag tyd gegee om bykomende inligting te verskaf oor hul beleid teen dwangarbeid. ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging het verlede week deelgeneem aan ʼn openbare verhoor waar die land gepleit het om uitgesluit te word van die voorgestelde 12,5-persent tarief op invoer van goedere wat met dwangarbeid vervaardig is. As alternatief het Suid-Afrika versoek dat geen tariewe gehef word op belangrike uitvoerprodukte soos edelmetale, voertuie en sitrusvrugte nie, en voer aan daar is geen bewyse dat dwangarbeid by hierdie produkte nie.
# Die DA sê hy gaan parlementêre vrae indien waarvolgens die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, rekenskap sal moet gee oor die besluit om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente onder administrasie te plaas. Die party vra ook volledige besonderhede oor die aangestelde adviseurs, hul rolle, vergoeding en mandate. Dit volg nadat die administrateur, professor Hlengani Mathebula, na bewering vier tegniese adviseurs teen ‘n koste van nagenoeg tien-miljoen-rand per jaar aangestel het. Delmaine Christians van die DA sê studente kan nie voortgaan om die prys vir onbestendigheid en swak toesig te betaal nie:
# Rise Mzansi sê swak leierskap is die rede vir Johannesburg se voortdurende vullisverwyderingskrisis, met inwoners en besighede wat omring word deur opgehoopte vullis. Volgens die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Lukhona Mnguni, word vullisverwyderingsdienste ontwrig deur kommer van Pikitup se tydelike werkers, insluitend werksonsekerheid en die rotasie van kontrakteurs. Mabine Seabe van Rise Mzansi vra dringende optrede om betroubare vullisverwydering regoor die stad te herstel:
# Iranse missiele het twee tenkskepe van die Verenigde Arabiese Emirate, die Mombasa en die Bahia, in Omaanse gebiedswaters in die Straat van Hormoes getref. Een bemanningslid is dood en agt beseer. Die oorlede bemanningslid op die Mombasa was ʼn Indiër, terwyl ses van die beseerdes van Indië was en twee van Oekraïne. Die VAE se ministerie van Verdediging veroordeel die aanvalle en sê dis ʼn ernstige verbreking van internasionale reg. Hy sê om die Straat van Hormoes te gebruik om druk uit te oefen of as ekonomiese afpersing, is seerowery.
# Krieket: Brendon McCullum het om verskoning gevra vir Engeland se swak toetsuitslae teen die einde van sy termyn as afrigter. Die Nieu-Seelander is as die toetshoofafrigter afgedank na ‘n teleurstellende 4-1-pakslae in die reeks om die As in Australië, asook agt nederlae in die span se laaste 12 toetse. McCullum bly aan as afrigter van die witbalspanne. Hy sê krieketsukses berus op uitslae en ongelukkig kon hulle nie die resultate kry wat hulle wou hê nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-391-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-17-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….