Nuus 18:00
BULLETIN 13 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Regskenner sê die Nasionale Vervolgingsgesag dra nou die bewyslas in Matlala-verhoor
# SALGA vra Tesourie om die terughou van munisipale befondsing te hersien
# En tennis, groot verbeterings vir Wimbledon-finaliste op die WTA-wêreldranglys
# Die stigter van Dubazana Prokureurs, Nthabiseng Dubazana, sê die Nasionale Vervolgingsgesag moet sy saak teen sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala bo redelike twyfel bewys nadat sy pleitooreenkoms in duie gestort het. Matlala het ‘n voorgestelde vonnis van 12 jaar verwerp in die SAPS-Medicare24-tenderbedrogsaak van 288-miljoen-rand. Dubazana sê die verhoor sal van voor af begin, en vorige erkennings onder die pleitooreenkoms sal uitgesluit word. Sy voeg by die Staat moet nou onafhanklik elke element van die beweerde oortredings in die hof bewys.
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging in Gauteng, het die Nasionale Tesourie versoek om direk met munisipaliteite te skakel voordat befondsing teruggehou word. Die vereniging waarsku die terughouding van fondse kan dienslewering verswak deur munisipaliteite se vermoë te beperk om basiese dienste te lewer en finansiële verpligtinge na te kom. Motatala Madiba van SALGA sê afdwingingsmaatreëls moet regverdig en op bewyse gegrond wees, en by elke munisipaliteit se omstandighede aangepas word. Hy sê hulle belowe ondersteuning om munisipaliteite te help om finansiële bestuur te versterk, nakoming te verbeter en volhoubare dienslewering te verseker.
# ‘n Totaal van 383 verdagtes is die naweek in Mamelodi en Silverton vir verskeie oortredings in hegtenis geneem tydens ‘n multidissiplinêre misdaadvoorkomingsoperasie. Polisiewoordvoerder, Marinda Austin, sê die verdagtes is aangekeer vir misdade wat wissel van moord, poging tot moord en aanranding tot verkragting. Sy sê ‘n totaal van 67 ongedokumenteerde buitelandse burgers word aangehou en is aan immigrasiebeamptes oorhandig vir verdere verwerking:
# Die Nasionale Energiereguleerder het die redes gepubliseer vir sy besluit om Eskom se batebasis vir die regulering van kragopwekking te herbepaal. Die Hooggeregshof in Pretoria het Nersa in Desember opdrag gegee om die waarde van Eskom se databasis en toelaatbare inkomste uit waardevermindering te herbepaal. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê hulle het Eskom se bykomende toelaatbare inkomste van 54, 734-duisend-miljoen-rand in Februarie goedgekeur:
# Tennis: Die pasgekroonde Wimbledon-kampioen, Linda Nosková, het vyf plekke na sewende verbeter op die jongste WTA-wêreldranglys. Haar Tsjeggiese landgenoot wat sy in die eindstryd geklop het, Karolina Muchová, is nou sesde. Verlede jaar se kampioen, Iga Swiatek van Pole, het vyf plekke teruggesak na agtste nadat sy in die derde ronde verloor het. Aryna Sabalenka van Belarus is steeds nommer-een, gevolg deur Elena Rybakina van Kazakstan, die Amerikaners Jessica Pegula en Coco Gauff, en die Rus Mirra Andreeva. Die Amerikaner Amanda Anisimova is negende en Elina Svitolina van Oekraïne tiende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-271-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-43-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 78-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….