Nuus 15:00
BULLETIN 13 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG is vol vertroue oor hulle saak nadat Matlala se pleitooreenkoms verval
# Oliepryse styg terwyl die Amerikaans-Iranse konflik voortduur
# En die Jurassic Park-akteur Sam Neill sterf op 78
# Die Nasionale Vervolgingsgesag kan nie die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se verklaring as bewys gebruik nie nadat hy ‘n ooreenkoms vir 12-jaar tronkstraf verwerp het wat die Pretoriase Handelsmisdaadhof voorgestel het. Die hof het sy pleitooreenkoms in die Medicare24-tenderbedrogsaak van 288-miljoen-rand nietig verklaar nadat die staat se voorgestelde vonnis van agt jaar verwerp is. Die NVG se woordvoerder, Kaizer Kganyago, glo hulle kan ‘n skuldigbevinding verseker teen Matlala:
# Die Madlanga-kommissie het sy verrigtinge uitgestel nadat advokaat Andrea Johnson van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie oornag in die hospitaal opgeneem is. Sy sou getuig oor bewerings van wangedrag wat generaal-majoor Feroz Khan betrek, en lig werp op die verhouding tussen belangrike wetstoepassingsagentskappe. Kommissarisse kritiseer Johnson se mediese sertifikaat as nutteloos. Getuienisleier Mahlape Sello en voorsitter Mbuyiseli Madlanga stem saam dat Johnson persoonlik moet getuig sodra sy herstel:
Nuus uit die buiteland:
# Oliepryse het met meer as drie-persent gestyg nadat hernude militêre aanvalle tussen Amerika en Iran kommer oor energieverskepings deur die Seestraat van Hormoes aangewakker het. Brent-ru-oliepryse vir langtermynlewering het met 3,51-persent gestyg tot bo 78-dollar per vat. Reuters haal ontleders van die Australiese en Nieu-Seelandse Bankgroep aan wat sê skeepvaart-operateurs volg ‘n versigtige benadering en inkomende bewegings deur die seestraat het verlangsaam weens toenemende veiligheidsbekommernisse. Nuwe Amerikaanse en Iranse aanvalle het vrese laat toeneem dat spanning weer kan opvlam.
# Rugby: Die stut Carlu Sadie, die slot Ruben van Heerden, die vleuel Jaco Williams en die losskakel Vusi Moyo sal almal Saterdag die eerste keer vir die Springbokke uitdraf nadat hul in Rassie Erasmus se beginspan ingesluit is vir die Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Wallis in Durban. Moyo en Cobus Reinach is die skakelpaar, terwyl kaptein Pieter-Steph du Toit saam met Paul de Villiers en Jasper Wiese die los-trio sal vorm. Erasmus sê Wallis maak goeie vordering en sal hierdie naweek ‘n punt wil bewys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-912-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-64-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: Die geliefde Nieu-Seelandse akteur Sam Neill, veral bekend vir sy rolle in Jurassic Park, en die van kaptein Borodin in die spioenasieriller The Hunt for Red October, het in die ouderdom van 78 gesterf. Hy was omring deur sy familie in die St Vincent’s-privaat hospitaal in Sydney, Australië. Huldeblyke stroom van oral in. Die Nieu-Seelandse eerste minister, Christopher Luxon, onthou hom as een van die groot name wat gehelp het om die land se rolprentbedryf wêreldwyd bekend te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….