Nuus 13:00
BULLETIN 13 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bibo Makwedini se gesin berei voor vir die repatriasie van sy liggaam
# Die MK-party verwerp bewerings van veiligheids-besteding
# En tennis: Zverev vervang Alcaraz as wêreld-nommer-twee terwyl Fery 78 plekke klim ná Wimbledon
# Die gesin van die ontslape Suid-Afrikaanse onder 18-rugbyspeler, Luqobo “Bibo” Makwedini, berei voor om na Frankryk te reis om sy liggaam huis toe te bring. Die jong speler, wat op ‘n drie-jaar-kontrak by die Franse klub Béziers was, is Saterdag weens ontwatering en hitte-uitputting dood ná ‘n oefening vroeër die oggend. Hy is inderhaas hospitaal toe geneem, maar het later gesterf. ‘n Familie-woordvoerder het aan SABC News gesê die gesin is tans besig met die nodige reëlings om sy liggaam na Suid-Afrika te repatrieer.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag is teleurgesteld oor die vermeende misdaadfiguur Vusimuzi “Cat” Matlala se besluit om aan sy pleit- en vonnisooreenkoms te onttrek. Hy sou skuldig pleit aan korrupsie, geldwassery en bedrog oor die kontrak van 228-miljoen-rand tussen die polisie en sy onderneming, Medicare24. Matlala het die staat se voorgestelde vonnis van 12-jaar tronkstraf verwerp. Die NVG se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê hy word nou saam met die 16 ander beskuldigdes verhoor:
# Die MK-party verwerp Sunday World se berig dat hulle meer as 336-duisend-rand bestee het aan privaat sekerheid vir sekretaris-generaal Sibonelo Nomvalo terwyl ander uitgawes bevries is. Die party sê die bewerings is vals, kwaadwillig en bedoel om sy naam te skaad voor die plaaslike regeringsverkiesing. Woordvoerder Sifiso Mahlangu sê die party het sy regsverteenwoordigers opdrag gegee om ‘n terugtrekking en ‘n verskoning te eis en sal regstappe doen as dit nie gebeur nie.
# Die Departement van Kleinsake-ontwikkeling se Connect System het reeds sowat 400-duisend informele en mikro-ondernemings vasgelê. Die digitale platform help om spaza-winkels te reguleer en ondersteun, terwyl dit klein ondernemings bystaan om onder meer toegang tot befondsing te verkry en vennootskappe te vorm. Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling en voorsitter van die tussen-ministeriële komitee oor Migrasie, Mmamoloko Kubayi, sê ‘n toepassingsplan word voltooi om die aantal geregistreerde ondernemings te verhoog:
# Tennis: Die Franse Ope-kampioen, Alexander Zverev, het opgeskuif na die tweede plek op die wêreldranglys nadat hy Wimbledon se eindstryd gehaal het. Die Duitser het verloor teen nommer-een, Jannik Sinner, toe die Italianer sy titel suksesvol verdedig het. Die beseerde Spanjaard Carlos Alcaraz het teruggesak na derde en die Amerikaner Taylor Fritz na tiende. Die Australiër Alex de Miñaur het sy hoogste loopbaan-posisie bereik toe hy tot vyfde opgeskuif het. Die Britse promotorskeuse Arthur Fery het 78 plekke opgeskuif na 36ste nadat hy die halfeindronde gehaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-53-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-74-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….