Nuus 12:00
BULLETIN 13 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala gaan nou verhoor word nadat hy aan ‘n pleitooreenkoms onttrek
# Die Valke verwerp berigte van ‘n ondersoek na die waarnemende nasionale polisiekommissaris
# En rugby: Die Junior Bok-afrigter verwag ‘n uitdagende halfeindstryd teen Engeland
# Die Nasionale Vervolgingsgesag is teleurgesteld oor die vermeende misdaadfiguur Vusimuzi “Cat” Matlala se besluit om aan sy pleit- en vonnisooreenkoms te onttrek. Hy sou skuldig pleit aan korrupsie, geldwassery en bedrog oor die kontrak van 228-miljoen-rand tussen die polisie en sy onderneming, Medicare24. Matlala het die staat se voorgestelde vonnis van 12-jaar tronkstraf verwerp. Die NVG se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê hy word nou saam met die 16 ander beskuldigdes verhoor:
Die Valke ontken intussen berigte dat hy die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, ondersoek. Public Interest SA het ‘n strafregtelike klag teen Dimpane ingedien waarin beweer word sy het die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree in verband met die Medicare24-kontrak. Die Valke sê Public Interest SA se klagte is na die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie verwys. Dit beteken egter nie ʼn strafregtelike saak is geregistreer, of ʼn ondersoek is begin nie.
# Business Leadership South Africa sê die land is op die rand van wydverspreide munisipale verval, en politici in plaaslike regering is ʼn groot oorsaak van die probleem. Die Nasionale Tesourie het besluit om 69 munisipaliteite se befondsing terug te hou weens finansiële wanbestuur. BLSA se hoof, Busisiwe Mavuso, sê munisipale verval, insluitend drie van Suid-Afrika se agt metro’s, weerspieël mislukte leierskap en aanspreeklikheid. Die metro’s is Johannesburg, Mangaung en Nelson Mandelabaai. Mavuso sê die munisipale krisis beklemtoon die dringende behoefte aan algemene munisipale hervorming.
Die vakverbond SAFTU is intussen woedend nadat munisipaliteite meer as 1,7-miljard-rand van werkers se salarisse afgetrek, maar nooit aan die pensioenfondse oorbetaal het nie. Dit is een van die hoofredes waarom die befondsing weerhou is. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê daar kan nie een wet vir privaat werkgewers en ʼn ander vir munisipaliteite wees nie:
# Rugby: Die Junior Springbok-afrigter, Kevin Foote, sê hulle is goed voorbereid vir vanaand se Junior Wêreldkampioenskaps-halfeindstryd teen Engeland in Tbilisi, Georgië. Hy het vier veranderings aangebring aan die span wat Wallis in hul laaste groepskragmeting gewen het, met ses voorspelers en twee agterspelers op die bank. Foote sê hulle het ʼn opwindende span en ʼn kombinasie gekies wat die beste pas by hul wedstrydplan teen ʼn baie goeie Engelse span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-971-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-76-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….