Nuus 11:00
BULLETIN 13 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cat Matlala onttrek van sy pleit- en vonnisooreenkoms met die staat
# Iran voer vergeldingsaanvalle uit op Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste
# En rugby: Die Junior Bok-afrigter verwag ‘n uitdagende halfeindstryd teen Engeland
# Die beweerde misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala het onttrek van sy pleit- en vonnisooreenkoms met die staat wat verband hou met Medicare24 se gesondheids- en welstands-polisietender van 228-miljoen-rand. Die Handelsmisdaadhof in Pretoria het vroeër die maand sy voorgestelde ooreenkoms van agt jaar tronkstraf verwerp, waarin hy hom ook daartoe verbind het om as staatsgetuie te getuig in samewerking met die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie. Die hof het die voorstel onregverdig bevind en ‘n vonnis van 12 jaar aanbeveel. Die saak is tot 11 September uitgestel.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê hulle sal nog hulpbronne ontplooi om veiligheid te verskerp voor die tweede kieserregistrasie-naweek in Augustus en die munisipale verkiesing in November. Die afgelope paar maande is minstens 12 raadslede in vermeende politieke geweld vermoor. Cachalia sê dis die regering se verantwoordelikheid om seker te maak verkiesings vind plaas in ‘n veilige omgewing, veral te midde van kommer oor politieke geweld:
# ActionSA sê al is Stad Johannesburg Afrika se voorste handelsentrum, sukkel hy steeds om ʼn betroubare, veilige, bekostigbare en doeltreffende vervoerstelsel te voorsien. Woordvoerder Lebo Mokoka sê inwoners staan voor dagbreek op om oorvol taxi’s, onbetroubare busse en treine te haal. Sy sê dis die gevolg van jare-lange onvoldoende beplanning, swak beleggingsbesluite en ʼn gebrek aan politieke visie oor die sentrale rol wat vervoer in stedelike ontwikkeling speel:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Islamitiese Revolusionêre Wagkorps het vanoggend vergeldingsaanvalle op Amerikaanse militêre basisse in Koeweit, Jordanië en Bahrein uitgevoer. Dit volg nadat Amerika Teheran gister aangeval en Iranse lugafweerstelsels, radarstasies aan die kus en missiel- en hommeltuig-persele getref het. Volgens Iran is een persoon dood en vier ander beseer. Die hernude aanvalle stel die tussentydse skietstilstand van verlede maand in gevaar. Die ooreenkoms sluit in dat vyandelikhede gestaak en die Seestraat van Hormoes heropen word.
# Rugby: Die Junior Springbok-afrigter, Kevin Foote, sê hulle is goed voorbereid vir vanaand se Junior Wêreldkampioenskaps-halfeindstryd teen Engeland in Tbilisi, Georgië. Hy het vier veranderings aangebring aan die span wat Wallis in hul laaste groepskragmeting gewen het, met ses voorspelers en twee agterspelers op die bank. Foote sê hulle het ʼn opwindende span en ʼn kombinasie gekies wat die beste pas by hul wedstrydplan teen ʼn baie goeie Engelse span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-713-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-53-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….