Nuus 08:00
BULLETIN 13 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika het wette om die invoer van dwangarbeidprodukte te voorkom
# Ten minste 27 is dood in ‘n brand in ‘n gewilde kroeg in Bangkok
# En tennis, Jannik Sinner klop Alexander Zverev om sy Wimbledon-titel suksesvol te verdedig
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het herhaal dat Suid-Afrika die wette het om ‘n verbod af te dwing op die invoer van dwangarbeidprodukte. Die Kantoor van die Amerikaanse Handelsverteenwoordiger ondersoek tans minstens 60 ekonomieë om te bepaal of die verbod op die invoer van dwangarbeidgoedere voldoende afgedwing word. Die regering het die VSA gevra om hom vry te stel van die voorgestelde tarief van 12,5-persent vir dwangarbeid. Tau sê die heffing van bykomende tariewe op Suid-Afrika sal werkers straf wat nie verantwoordelik is vir dwangarbeid in ander lande nie.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die Staatsveiligheidsagentskap is tans besig met die veiligheidskeuring van senior polisiebestuurders as deel van die regering se breër pogings om integriteit, verantwoordbaarheid en openbare vertroue binne wetstoepassing te versterk. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê 18 van die 23 luitenant-generaals wat tans landwyd dien, het reeds formeel hul aansoeke vir herkeuring ingedien. Ntshavheni sê die Staatsveiligheidsagentskap het oorgeskakel na elektroniese keuring om die proses te versnel:
# Die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, verskyn na verwagting vandag voor die Madlanga-kommissie. Dit volg na getuienis dat Johnson in 2018, toe sy ‘n senior aanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag was, na bewering die inhoud van ʼn vertroulike misdaad-klagte laat uitlek het aan die hoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, wat ʼn verdagte in die saak was. Sy het volgens berigte ook ondersoekbeamptes opdrag gegee om sekere aspekte van die saak nie te ondersoek nie. Senior ondersoeker, Brian Padayachee, sal ook later die week voor die kommissie verskyn.
# Minstens 27 mense is dood nadat ʼn brand in die Rong Beer Na Lat Phrao, ʼn gewilde kroeg in Thailand se hoofstad, Bangkok, uitgebreek het. Nog 63 is beseer waarvan 22 se toestand bedenklik is. Volgens berigte het getuies gesien hoe rook uit ʼn stroomverbreker naby die verhoog kom voor die krag afgegaan en ʼn ontploffing gehoor is. Talle slagoffers is op die vloer naby die kroeg se toilette gevind. Die brand is die ergste soortgelyke voorval in die gewilde toeristebestemming die afgelope jare.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het die tiende speler geword wat sy Wimbledon-titel in die mans-enkelspel suksesvol verdedig. Die Italianer het Alexander Zverev van Duitsland met 6-7, 7-6, 6-3, 6-4 verslaan om sy vyfde Grand Slam-titel te buit. Zverev, wat verlede maand die Franse Ope gewen het, wou die eerste man sedert 1968 word wat sy tweede Grand Slam-titel onmiddellik na sy eerste opraap. Sinner, wat in 2026 met ses titels voorloop, sê dis baie spesiaal om Wimbledon weer te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-866-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-60-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….