Nuus 07:00
BULLETIN 13 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika het sedert Junie meer as 50-duisend buitelanders gedeporteer of gerepatrieer
# Firoz Cachalia is bekommerd oor die opruiende uitsprake teen die regering
# En Pakistan doen ‘n beroep op die VSA en Iran om af te skaal
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die regering gaan voort om buitelanders na hul lande terug te stuur volgens riglyne van die Inter-ministeriële Komitee oor Migrasie se vyfpuntplan. Tot op hede is 53-duisend-449 buitelanders vir deportasie en repatriasie verwerk. Die meeste is Malawiese burgers, gevolg deur Zimbabwiërs en Mosambiekers. Kubayi sê wetstoepassingsagentskappe het 205 sake aanhangig gemaak en 350 individue gearresteer in verband met intimidasie, gepeupelreg en migrasie-verwante oortredings:
Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het intussen kommer uitgespreek oor wat hy beskryf as wydverspreide waninligting en opruiende retoriek teen die Suid-Afrikaanse regering. Die regering is gekritiseer oor die toekenning van 600-miljoen-rand vir polisiëring tydens die 30 Junie-betogings teen ongedokumenteerde immigrante. Cachalia het gister gesê die regering is bewus van die finansiële, humanitêre en ekonomiese gevolge indien hy nie vir ernstige sekuriteit-bedreigings voorberei nie:
# Die geregtelike ondersoek na die dood van Anele Tembe, voormalige verloofde van wyle kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes, begin vandag in die Kaapstadse landdroshof, met haar familie wat hoop dat die verrigtinge uiteindelik antwoorde en berusting sal bied. Die drie dae lange verhoor sal die omstandighede rondom die 22-jarige se noodlottige val uit die Pepperclub Hotel in 2021 ondersoek. Ses van 23 gedagvaarde getuies sal na verwagting getuig. Die geregtelike doodsondersoek volg drie jaar na die moord op Forbes in Durban, met sewe verdagtes wat tans verhoorafwagtend is.
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê haar departement sal hierdie week ʼn tussentydse busdiens instel vir Hammanskraal en omliggende gebiede. Dit volg ná North West Transport Investment se versuim om sy kontrak na te kom. NTI, wat jaarliks meer as 3,6-miljoen passasiers tussen Gauteng en Noordwes vervoer, skuld die Gautengse Vervoerdepartement 108-miljoen-rand aan boetes weens opskorting en onderbreking van dienste. Diale-Tlabela sê NTI-busse kom nie reëls na nie en het nie bedryfspermitte nie:
# Pakistan se ministerie van Buitelandse Sake sê hy is diep bekommerd oor die onlangse voorvalle wat spanning in die Midde-Ooste verhoog. Amerika en Iran het die naweek aanvalle op mekaar uitgevoer, met Washington wat meer as 140 teikens in Teheran getref het. Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps het Amerikaanse basisse en bondgenote in die streek aangeval. Pakistan, wat ʼn belangrike rol speel in die bemiddelingsproses, maan beide kante om selfbeheersing toe te pas en ooreenkomste volgens die memorandum van verstandhouding na te kom.
# Krieket: Brendon McCullum gaan na vier jaar uittree as Engeland se hoofafrigter. Dit volg na ʼn reeks swak uitslae, insluitend verlede jaar se 4-1-nederlaag in die Reeks om die As teen Australië, en talle voorvalle van die veld af. Engeland het agt van hul 12 toetse onder die 44-jarige McCullum verloor en slegs drie gewen. Hul jongste nederlaag van 2-1 was op hul tuisveld teen Nieu-Seeland. McCullum, wat steeds die mans se witbalspanne sal lei, sê hy is uiters teleurgesteld, maar baie trots op wat hulle as ʼn span bereik het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-587-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-86-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….