Nuus 09:00
BULLETIN 12 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Britse speurder prys Suid-Afrika en Zimbabwe nadat ‘n voortvlugtige gearresteer is
# Die Verkiesingskommissie moet vrae beantwoord oor die gebruik van KI-verkiesingsinhoud
# En tennis: Linda Nosková wen haar eerste Grand Slam-titel op Wimbledon
# ‘n Senior Britse speurder, Lee Martins, het die Suid-Afrikaanse owerhede geprys na die inhegtenisneming van die moordverdagte, Mark Tshuma, in Johannesburg. Tshuma word in Brittanje gesoek vir die moord op sy vrou, Ntobeko Zandile Tshuma, en hul twee dogters. Martins sê Tshuma het deur Dubai uit Brittanje gevlug voordat hy tussen Suid-Afrika en Zimbabwe gereis het. Hy sê hulle is nou besig om sy uitlewering aan Brittanje te bewerkstellig;
# Die Verkiesingskommissie kry kritiek nadat hy politieke partye gewaarsku het oor die gebruik van kunsmatige intelligensie in verkiesingsinhoud, terwyl hulle later sélf ‘n KI-gewysigde foto geplaas het. Die Kommissie het belanghebbendes aangespoor om in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing verantwoordelike gebruik van KI te verseker en misleidende inligting te voorkom. Die kommissie sê KI bly ‘n groeiende risiko vir diep vervalsings en geteikende waninligting. Suid-Afrikaners en politieke partye word genooi om skriftelike kommentaar oor die kommissie se konsep-digitale veldtogreëls in te dien. Die sperdatum is 22 Julie.
# ‘n Ondersoekende dokumentêr deur News24 met die titel, Anele Tembe: Final Moments, word vandag vrygestel en herleef die laaste ure van wyle kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes se verloofde in Kaapstad. Tembe is dood nadat sy in 2021 van die tiende verdieping van die Pepperclub Hotel geval het. Haar dood is as selfmoord beskou, ‘n bevinding wat deur haar familie betwis word. Die dokumentêr bevat CCTV-beeldmateriaal, voorvalverslae en ander materiaal van daardie oggend. Die geregtelike doodsondersoek oor Tembe se dood begin binnekort in die Kaapstadse landdroshof.
# Die voorsitter van die Parlement se Portefeuljekomitee oor Toerisme, Ronalda Nalumango, het die regering gevra om seker te maak toerisme-entrepreneurs in townhips en dorpe word nie van die sektor se groei uitgesluit nie. Nalumango sê toerisme moet gemeet word aan werksgeleenthede, besighede en geleenthede in onderbediende gemeenskappe, nie net aan besoekersgetalle in groot stede nie. Alhoewel sy die sektor se sterk herstel verwelkom beklemtoon Nalumango die noodsaaklikheid van meer befondsing vir plaaslike infrastruktuur, ondernemingsontwikkeling en marktoegang, om te verseker dat toerisme inklusiewe ekonomiese groei regoor Suid-Afrika lewer.
# En ten slotte sportnuus:
# Tennis: Linda Nosková het gister haar eerste Grand Slam-titel verower met ‘n oorwinning oor haar landgenoot Karolína Muchová in die 2026 Wimbledon-eindstryd. Die 21-jarige negende gekeurde het vroeg oorheers, maar het verkrummel toe sy met 5-2 in die tweede stel agter was en vyf kampioenskapspunte vermors het. Muchová het dapper teruggeveg om ‘n beslissende stel af te dwing. Nosková het egter haar selfvertroue in die derde stel herwin om die trofee met haar sesde wedstrydpunt te verseker:
# En sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het Bafana Bafana en Mamelodi Sundowns se middelveldspeler Jayden Adams as ‘n skitterende talent beskryf. Die 25-jarige se liggaam is gisteroggend op ‘n perseel in Schotsche Kloof, Kaapstad, gevind. Die middelveldspeler het Suid-Afrika onlangs by die 2026 FIFA Wêreldbeker verteenwoordig en die span gehelp om die uitklopfase te haal. Hy het aan Newzroom Afrika gesê sy dood is ‘n groot verlies vir die land:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….