Nuus 08:00
BULLETIN 11 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kobus Roelofse beweer Andrea Johnson het ingemeng met die ondersoek na die Feroz Khan-aanrandingsaak
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê meer as een-miljoen Suid-Afrikaners het sedert 1990 geëmigreer
# En sokker, Spanje klop België en dring deur na die Wêreldbeker-halfeindronde
# Die afgetrede SAPD-kolonel Kobus Roelofse het aan die Madlanga-kommissie gesê die joernalis Barry Bateman moes nooit vertroulike dossierdokumente oor generaal-majoor Feroz Khan se aanrandingsaak in sy besit gehad het nie, omdat dit nie in die openbare domein was nie. Roelofse beweer Andrea Johnson, hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, het die rekords met ‘n privaat e-pos aangevra. Hy beweer Johnson het individue wat betrek is, gewaarsku, en was met getuies in aanraking en het sensitiewe inligting bekend gemaak voor hulle daarop geregtig was:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê meer as een-miljoen Suid-Afrikaners het sedert 1990 geëmigreer, met meer as 107-duisend wat die afgelope ses jaar die land verlaat het. Die organisasie het ‘n diaspora-opname van stapel gestuur om beter te verstaan waarom mense vertrek en of hulle sal oorweeg om terug te keer. Makone Maja van die instituut sê die bevindinge sal help om maniere te identifiseer om Suid-Afrika ‘n land te maak waar meer mense kies om te bly en hul toekoms te bou.
# AfriForum het ‘n onafhanklike ondersoek versoek na die 417-miljoen-rand wat deur Noordwes-munisipaliteite aan konsultante bestee is. Die organisasie sê die ouditeur-generaal se jongste verslag toon die provinsie het die hoogste besteding aan konsultante in die land gehad, terwyl nie een van sy munisipaliteite ‘n skoon oudit ontvang het nie. Jaco Grobbelaar van AfriForum het die provinsiale regering en toesighoudende liggame versoek om die besteding te ondersoek en diegene wat daarvoor verantwoordelik is, aanspreeklik te hou:
# Statistiek Suid-Afrika sê vervaardigingproduksie het met 4,3-persent in Mei gedaal in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar, hoofsaaklik as gevolg van dalings in die voedsel en drank-, metaal- en hout- en papierbedrywe. Produksie het egter met 1,1-persent verbeter in vergelyking met April. Nicolai Claassen van Statistiek SA sê verkope vir die drie maande tot Mei was 3,2-persent hoër, ondersteun deur sterk groei in die motorvoertuig- en chemiese bedrywe:
# Sokker: Spanje het deurgedring na die 2026 FIFA Wêreldbeker-halfeindronde na ‘n dramatiese oorwinning van 2-1 in die kwarteindstryd teen België in Los Angeles. Fabián Ruiz van Spanje het die eerste doel vir sy span in die 30ste minuut aangeteken. België het net voor rustyd die telling gelyk gemaak met ‘n briljante kopskoot deur Charles De Ketelaere. In die 88ste minuut het die Spaanse plaasvervanger Mikel Merino ‘n fout deur die doelwagter Senne Lammens uitgebuit en die wendoel aangeteken. Spanje kom nou Dinsdag teen Frankryk in die halfeindronde te staan.
# En ten slotte tennis: Die sesde Tsjeggiese vrouekampioen word vandag by Wimbledon gekroon wanneer Karolina Muchová en Linda Nosková teen mekaar in die eindstyd op die hoofbaan speel. Die bekendste Tsjeggiese kampioen, Martina Navratilova, het die titel nege keer tussen 1978 en 1990 gewen en is nou ‘n Amerikaanse burger. Sederdien is Jana Novotná in 1998 gekroon, Petra Kvitova het die 2011- en 2014-toernooie gewen, Markéta Vondrousova is in 2023 as kampioen gekroon en Barbora Krejciková het die jaar daarna gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….