Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Raad van Provinsies moet sy wetgewende gesag gebruik om die gebrekkige BELA-wetsontwerp te verwerp
# Organisasies sê die Kernreguleerder se proses vir Koeberg se leeftydverlenging is gebrekkig
# En, motorsport: Formule Een gaan tot 2029 in Japan wees
# Die DA pleit by die Nasionale Raad van Provinsies om sy wetgewende gesig te laat geld om die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette te verwerp sodat die Nasionale Vergadering daaroor kan herbesin. Openbare voorleggings oor die BELA-wetsontwerp het gister gesluit en dit dien nou voor die raad vir instemming. ‘n Woordvoerder van die DA, Baxolile Nodada, sê hoewel die ANC vasbeslote is om die wetsontwerp deur te stoomroller, is die party gereed vir regsoptrede:
# Die Koeberg Alert Alliance en Green Connection lê van môre af hul betoë voor oor waarom die openbare deelnameproses van die Nasionale Kernreguleerder oor die verlenging van die leeftyd van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad se bedryf gebrekkig is. Die reguleerder het die versoek goedgekeur om die bedryfstydlyne van eenheid een en eenheid twee te skei. Die woordvoerder van die alliansie, Lydia Petersen, sê hulle sal hul voorlegging doen oor die 14 veiligheidskwessies wat die Internasionale Atoomenergie-agentskap by Koeberg uitgesonder het en wat nie aandag gekry het nie.
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om te registreer om te stem tydens die tweede en laaste registrasienaweek van die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Die registrasienaweek is dié naweek aan die gang by verskillende stemlokale regoor die land. ‘n Woordvoerder van die raad, Malusi Mpumlwana, beklemtoon dis die demokratiese reg van elke Suid-Afrikaner om deel te wees van die stemproses. Mpumlwana sê deur te registreer om te stem, kan landsburgers hulle stem laat hoor en bydra om vorm te gee aan die toekoms van die land:
# Motorsport: Formule 1 het ‘n vyf-jaar verlenging aangekondig met die Japannese Grand Prix wat die ikoniese Suzuka-baan tot minstens 2029 op die kalender sal hou. Die eerste F1-wedren by Suzuka was in 1987. Vanjaar se Japannese Grand Prix beweeg na ‘n nuwe gleuf in April, tussen die wedrenne in Australië en China, om die afstand te verminder van vrag wat wêreldwyd vervoer word. Die stap vorm deel van F1 se strewe om meer volhoubaar te wees, met die doel om teen 2030 op netto-nul koolstof te kan wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-178-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-55-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-82-sent per vat.
# Ten slotte: Die Universiteit van Pretoria het ‘n posisie in die top agt-persent van universiteite wêreldwyd behaal vir sy aanbod van hoë gehalte en bekostigbare onderwys en opleiding aan internasionale studente . Die lys is bepaal deur Study Abroad Aide, wat meer as agt-duisend privaat en openbare hoëronderwysinstellings oor 69 lande beoordeel het. Die viserektor vir Navorsing, Innovering en Nagraadse Onderwys, Sunil Mahaaraj, sê die universiteit is daartoe verbind om ‘n wêreldwye inklusiewe akademiese omgewing te skep, waar studente toegang tot die beste gehalte onderwys kan kry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….