Nuus 16:00
BULLETIN 10 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Enyobeni-taverne se eienaars is aanspreeklik vir die tragedie wat 21 lewens geëis het
# Minister Godongwana vra munisipaliteite om hul inkomstebronne uit te brei
# En boks: Die WBC-geveg om die Afrika-swaargewigkampioenskapstitel is die hoofgeveg in die Johannesburgse toernooi
# Die Streekhof in Mdantsane in die Oos-Kaap het bevind die voormalige eienaars van die Enyobeni-taverne, Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu, is wettig aanspreeklik vir die tragedie in 2022 waarin 21 tieners dood is. Die hof het beslis die eienaars het versuim om drankwette af te dwing. Die geregtelike doodsondersoek het maande se getuienis aangehoor vanaf oorlewendes, ondersoekbeamptes en forensiese kundiges oor een van Suid-Afrika se dodelikste taverne-rampe. Die bevinding baan die weg vir die Nasionale Vervolgingsgesag om strafregtelike vervolging teen die eienaars in te stel.
# Die voormalige stadsbestuurder van Ekurhuleni, Imogen Mashazi, en die geskorste hoof van Menslike Hulpbronne, Linda Gxasheka, is borgtog van 50-duisend-rand elk toegestaan in die Landdroshof in Germiston, Gauteng. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling in verband met die bloulig-sage, die beweerde beskerming van die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en die goedgekeuring van onregmatige salarisverhogings. Landdros Trevor Classen het die saak tot 28 Augustus uitgestel:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê baie munisipaliteite het te afhanklik geword van elektrisiteitsverkope as ‘n bron van inkomste, ondanks dalende kragverbruik. Hy het ‘n nuuskonferensie gehou nadat die Nasionale Tesourie tydelik die befondsing aan 69 munisipaliteite opgeskort het weens wanbestuur. Godongwana sê afhanklikheid van elektrisiteitsverkope is nie meer volhoubaar nie en munisipaliteite moet inkomste-invordering versterk en finansiële bestuur verbeter om langtermyn finansiële bestendigheid en dienslewering te verseker:
# Die Motorbedryfsraad, Naamsa, het die Motorproduksie- en Ontwikkelingsprogram verdedig teen oproepe dat dit geskrap moet word. Die bedryfsliggaam sê die program is ‘n belegging in Suid-Afrika se nywerheidsekonomie, nie ‘n subsidie vir vervaardigers nie. Hy sê die program het verlede jaar sowat 137-miljard-rand in plaaslike waardetoevoeging ingebring en meer as 270-miljard-rand se motoruitvoere ondersteun. Naamsa voer aan dat die bedryf se ekonomiese voordele die koste van regeringsaansporings verreweg oortref.
# Boks: Die geveg vir die vakante WBC Afrika-swaargewigkampioenskap is die hoof-aantrekkingskrag op die Golden Gloves’ Magic at the Palace-toernooi in Johannesburg. Swaargewigte José Kadima en Herbert Matovu sal oor tien rondes veg vir die gesogte titel. Die gevegsweek het amptelik begin met die verpligte mediese ondersoek en mediakonferensie, waar die boksers mekaar die stryd aangesê het. Die ander hoofgeveg is tussen Juan “Ife” Alberts en Jack Mulowayi, terwyl Suid-Afrika se opkomende bokssterre en kampioenskaps-aanspraakmakers aan die voorgevegte sal deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-467-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-104-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….