Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met sokker: Hugo Broos het amptelik bevestig sy uittrede as hoofafrigter van Bafana Bafana is finaal en onomkeerbaar. Dit volg ondanks emosionele pleidooie van sy spelers om aan te bly na Suid-Afrika se geskiedkundige lopie tot by die Wêreldbekertoernooi se ronde van 32. Die 74-jarige Belg sê hy is gereed om die eise van aktiewe afrigting en bestuur agter te laat. Broos het aan die Belgiese media gesê sy tyd langs die veld is verby. Hy het intussen volgens berigte met SAFA gepraat oor ‘n moontlike raadgewende rol.
Frankryk se kaptein, Kylian Mbappé, het intussen geskitter in die tweemalige kampioen se sege van 2-0 oor Marokko in Boston om hul derde agtereenvolgende Wêreldbeker-halfeindstryd te haal. Hy het in die tweede helfte sy agtste doel van die toernooi aangeteken en ook bygedra tot Ousmane Dembele se doel, wat die oorwinning beklink het. Mbappé en die Argentyn Lionel Messi is nou gelykop in die stryd om die Goue Stewel. Didier Deschamps se span speel Dinsdag in die halfeindronde teen Spanje of België.
# Nou rugbynuus: Rassie Erasmus gaan môre geskiedenis maak met ‘n rekord van 55 toetse as afrigter van die Springbokke wanneer hulle op Loftus Versfeld in Pretoria teen Skotland speel in die Nasieskampioenskap. Dit is die meeste vir ‘n Bok-breier sedert Suid-Afrika se eerste toets in 1891. Erasmus het dit bereik in twee tydperke – van 2018 tot 2019, en weer van 2024 tot nou. Sy wenrekord is tans 75,93-persent in 54 wedstryde.
# Krieket: Engeland het Indië met nege paaltjies verpletter in die vierde T20 in Bristol om hul eerste reeksoorwinning in hierdie formaat teen Indië te verseël. Die besoekers is tot 158 vir sewe beperk nadat kaptein Shreyas Iyer ‘n onoorwonne 80 van 49 balle bygedra het. Kaptein Harry Brook en Phil Salt het daarna ʼn onoorwonne vennootskap van 144 om die tweede paaltjie behaal en Engeland het die teiken bereik met 37 balle oor. Die gashere loop 3-0 voor voor môre se vyfde en laaste wedstryd in Southampton.
# En tennis: Die Tsjeggiese spelers Karolina Muchová en Linda Nosková speel môre in die eindstryd van die vroue-enkelspel op Wimbledon. Dis albei se eerste geleentheid om as Grand Slam-kampioen gekroon te word. Muchová het die Amerikaner Coco Gauff verslaan en Nosková vir Marta Kostyuk van Oekraïne. Die 20-jarige Nosková is die jongste vrou in die eindstryd sedert 2014. Dis die eerste keer dat twee vroue van dieselfde land die eindstryd van ‘n Grand Slam-toernooi bereik sedert die Amerikaners Sloane Stephens en Madison Keys op die Amerikaanse Ope in 2017.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….