Nuus 08:00
BULLETIN 10 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake behaal die grootste vermindering in vlugtelingappèlle in jare
# Zweli Mkhize sê die Tesourie kan nie voortgaan om swak finansiële bestuur goed te keur nie
# En Donald Trump lig Benjamin Netanyahu in oor ‘Amerikaanse optrede in die Golf’
# Die Departement van Binnelandse Sake se afdeling vir appèlaansoeke vir vlugtelinge toon die grootste afname in die agterstand met aansoeke in jare. Die geskiedkundige agterstand het met 14,2-persent afgeneem en die bestaande aktiewe gevalle in 2025/2026 met 12-persent. Die getal het van 79-duisend-870 gevalle aan die einde van 2024 tot afgeneem tot 70-duisend-976 aan die einde van verlede jaar. Die departement sê gevalle is afgehandel deur beslissings, terugtrekkings, finalisering en skriftelike beslissings waar aansoekers nie by geskeduleerde verhore opgedaag het nie. Minister Leon Schreiber sê dis ‘n belangrike stap in die land se herstelpad met immigrasie.
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zweli Mkhize, sê wetsoortreding kan nie oorgesien word om gemeenskappe teen die uitwerking van swak finansiële bestuur te beskerm nie. Dit volg nadat die Nasionale Tesourie Julie se befondsing aan 69 munisipaliteite teruggehou het weens finansiële wanbestuur en bestuursmislukkings. Mkhize sê die probleme wat in Tesourie se ingryping weerspieël word, soos onbefondsde begrotings, swak beheer en verkrygings-onreëlmatighede, is dieselfde probleme wat herhaaldelik in ouditkomitees se uitkomste en oorsig-vergaderings geïdentifiseer word:
# Die polisie in Gauteng het gister 80 onwettige immigrante tydens die multidissiplinêre Operasie Shanela in Pretoria in hegtenis geneem. Dit het deel uitgemaak van voortgesette provinsiale inisiatiewe om misdaad te beveg, immigrasiewette af te dwing en openbare veiligheid in Gauteng te bevorder. Daar is op nege onpadwaardige voertuie beslag gelê. Die adjunkkommissaris van polisie, Fred Kekana, het aan die SABC gesê ‘n persoon wat onwettige immigrante in diens gehad het, is ook in hegtenis geneem:
# President Donald Trump van Amerika en Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu het gisteraand in ‘n telefoongesprek ooreengekom om voort te gaan met samewerking op verskeie fronte. Dit volg nadat Amerika en Iran hierdie week aanvalle op mekaar uitgevoer het. Volgens Netanyahu se kantoor het Trump hom ingelig oor Amerika se huidige optrede in die Golf en die aanvalle op Iranse bates. Netanyahu het die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, se opmerkings teen die bestaan van die Israelse Staat opgehaal en die behoefte aan veiligheidsones langs Israel se grense beklemtoon.
# Sokker: Kaptein Kylian Mbappé van Frankryk het bygedra tot die tweemalige kampioene se 2-0-sege teen Marokko in Boston om hul derde agtereenvolgende Wêreldbeker-halfeindronde te haal. Mbappé, wat speler van die wedstryd was, se strafskop in die eerste helfte was mis, maar hy het in die tweede helfte sy agtste doel van die toernooi aangeteken. Hy het ook Ousmane Dembele se vyfde doel wat die oorwinning beklink het, moontlik gemaak. Mbappé en die Argentyn, Lionel Messi, is gelykop om die Goue Stewel op te raap. Didier Deschamps se span kom Dinsdag in die halfeindronde teen óf Spanje óf België te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-840-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-122-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….