Nuus 06:00
BULLETIN 10 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige SA Lugmag brigadier-generaal is in ‘n VSA tronk omdat sy ‘n ‘geheime buitelandse agent’ was
# BMW herroep meer as 10-duisend voertuie in Suid-Afrika
# En rugby: Solidariteit beskuldig die regering dat hy die Greatest Rivalry 2026-toer wil probeer beheer
# ‘n Voormalige brigadier-generaal van die Suid-Afrikaanse Lugmag, Portia Anyamba, is tot ses maande tronkstraf in die VSA gevonnis. Sy het skuldig gepleit op ‘n aanklag dat sy as ‘n onverklaarde agent vir Suid-Afrika opgetree het terwyl sy by die hoogs sensitiewe Oak Ridge Nasionale Laboratorium in Tennessee gewerk het. As deel van ‘n pleitooreenkoms het sy ook skuldig gepleit op die aanklag dat sy valse verklarings in haar aansoek om sekuriteitsklaring in die VSA gemaak het. Benewens haar tronkstraf sal Anyamba twee jaar onder toesig vrygelaat word en ‘n boete van 155-duisend-rand betaal.
# Rise Mzansi vra dringende optrede om die keuringsproses en leefstyloudits van senior amptenare in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te bespoedig. Volgens die party is die proses te stadig ten spyte van bewyse voor die Madlanga-kommissie wat toon dat misdaadnetwerke die polisie binnegedring het. Makashule Gana van Rise Mzansi het die verlenging van die kommissie se sperdatum verwelkom, maar gewaarsku dit moet nie pogings vertraag om die publiek se vertroue in polisiëring te herstel nie:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n veiligheidsherroeping aangekondig wat 10-duisend-961 BMW 3-reeks, 4-reeks, 5-reeks, 7-reeks, X3 en X4-voertuie raak wat sedert 2016 in Suid-Afrika verkoop is. Die herroeping volg op ‘n moontlike fout in die aansitterstelsel wat kan verhoed dat die enjin kan aanskakel of, in seldsame gevalle, oorverhitting en rook kan veroorsaak. Phetho Ntaba van die kommissie het eienaars aangespoor om die afstand-enjin-aansitfunksie te vermy totdat die herstelwerk voltooi is:
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en die geskorste hoof van regsdienste, Kemi Behari, is elk op borgtog van 50-duisend-rand vrygelaat in ‘n beweerde korrupsiesaak. Die voormalige stadsbestuurder van Ekurhuleni, Imogen Mashazi, en die geskorste hoof van menslike hulpbronne, Linda Gxasheka, het ook in die landdroshof in Germiston verskyn op aanklagte wat verband hou met die bloulig-skandaal waarby Vusimusi “Cat” Matlala betrokke is. Mkhwanazi se prokureur, Tian Peters, het gevra dat sy kliënt se borgtogaansoek sonder verdere vertragings gefinaliseer word.
#Die Iranse minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, het gewaarsku teen enige verdere Amerikaanse militêre “avontuurlustigheid”. Dit volg op ‘n tweede dag van aanvalle, wat die lewens van 14 mense in Teheran geëis het. Die Amerikaanse weermag het in die afgelope twee dae 170 teikens in Iran aangeval, insluitend meer as 60 klein bote van die Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps in die Straat van Hormoes. Iran het vergeldingsaanvalle op Amerikaanse basisse in Bahrein, Koeweit, Katar en Jordanië uitgevoer. Araghchi het gewaarsku Iran is gereed om homself te verdedig in die geval van verdere Amerikaanse aanvalle.
# Rugby: Die vakbond Solidariteit het ‘n voorstel deur die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, gekritiseer, om Rugby’s Greatest Rivalry 2026-toer as ‘n beskermde geleentheid te verklaar. Die vakbond meen die stap kan regeringsbeheer oor privaat sportgeleenthede verhoog deur verkrygingsvereistes in te stel en koste vir organiseerders by te voeg. Theuns du Buisson van Solidariteit sê hulle sal die regulasies met regsprosesse beveg:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-302-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-122-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….