Nuus 15:00
BULLETIN 9 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse massamoordenaar Mzwandile Mahambehlala word agt lewenslange vonnisse opgelê
# Rugby: Kommer oor Etzebeth se toekoms nadat hy weer harsingskudding opdoen
# En die sangeres van Total Eclipse of the Heart, Bonny Tyler, sterf op 75
# Die Hooggeregshof in Gqeberha het Mzwandile Mahambehlala agt lewenslange vonnisse opgelê vir die massaskietery in 2023 wat agt lewens geëis het op ‘n verjaardagviering in KwaZakhele in die Oos-Kaap. Waarnemende regter Samson Dunywa het ook gelyktydige vonnisse opgelê vir poging tot moord en vuurwapenmisdrywe. Mahambehlala is skuldig bevind op elf aanklagte, insluitend agt van moord, een van poging tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Die hof het gehoor die moorde is met voorbedagte rade gepleeg en Mahambehlala het geen berou getoon nie.
# Gun Free South Africa vra die regering op Vuurwapen-vernietigingsdag om pogings te versterk om die verspreiding van onwettige vuurwapens hok te slaan. Woordvoerder Claire Taylor sê gisteraand se massaskietery in Kaapstad beklemtoon ‘n dringende behoefte om die verspreiding van onwettige vuurwapens aan te pak. Sy sê die regering moet intelligensie-gedrewe wetstoepassing versterk om die bron van onwettige vuurwapens te vind en die pyplyn af te sny wat vuurwapens aan misdadigers verskaf:
# Cosatu in Gauteng sê korrupsie in Tembisa- en ander hospitale in die provinsie het openbare gesondheids-instellings se vermoë verwoes om gehalte-gesondheidsorg te bied. Die vakverbond het wel erkenning gegee aan die oudit op gesondheidsinfrakstruur en ander pogings van die LUR vir Gesondheid, Faith Mazibuko. Provinsiale voorsitter Amos Monyela sê hulle gaan begin met ‘n veldtog om korrupsie te beveg, wat opleiding in etiese gedrag vir alle vakbondverteenwoordigers insluit:
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth se toekoms wek kommer nadat hy weer harsingskudding opgedoen het. Dit het sy deelname aan die Nasieskampioenskaps-wedstryde in Suid-Afrika beëindig. Hy kon nie verlede naweek op Ellispark teen Engeland speel nie, en gaan ook Saterdag se kragmeting met Skotland op Loftus en volgende naweek s’n teen Wallis in Durban misloop. Etzebeth moes drie maande rus nadat hy binne ‘n jaar drie keer harsingskudding gehad het by Toulon in Frankryk, en het ook die toestand opgedoen in ‘n toets teen Engeland in 2016.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-674-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-104-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-42-sent per vat.
# En ons sluit af op ‘n hartseer-noot: Die Walliese sangeres Bonny Tyler, wat die treffer Total Eclipse of the Heart opgeneem het, is op 75 dood. Sy het in Mei ‘n nood-operasie ondergaan in Portugal en was sedertdien in intensiewe sorg. Tyler en haar man, Robert Sullivan, het sedert 1988 in die land gewoon. Die sangeres, wat as Gaynor Hopkins gebore is, het ‘n loopbaan van byna vyf dekades gehad nadat die talentjagter Roger Bell haar in 1977 in ‘n kroeg in Swansea ontdek het. Sy het ook treffers gehad met liedjies soos Lost in France, en More than a Lover.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….