Nuus 09:00
BULLETIN 9 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UAT sê swak bestuur is die oorsaak van fondsbevriesing vir munisipaliteite
# Die ANC sê die Openbare Beskermer se verslag toon die werkersklas in Kaapstad word afgeskeep
# En die VSA Teiken Iran met nog ‘n ronde lugaanvalle
# United Africans Transformation sê die Nasionale Tesourie se besluit om befondsing vir 69 munisipaliteite te bevries, ontbloot ‘n toenemende plaaslike regeringskrisis wat veroorsaak word deur finansiële wanbestuur, korrupsie en swak regering. Die party voer aan gemeenskappe dra die las van mislukte basiese dienste en groeiende munisipale skuld. Mighty Mabule van UAT vra herstelplanne, leefstyloudits van geïmpliseerde amptenare, vervolging waar korrupsie gevind word, en die aanstelling van gekwalifiseerde amptenare gegrond op meriete:
# Die vakbond NEHAWU sê hy is bekommerd oor bewerings dat die administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente geld mors. Volgens berigte het professor Hlengani Mathebula vier tegniese raadgewers teen tien-miljoen-rand per jaar gehuur en 200-duisend-rand aan huisvesting en reiskoste bestee. Die woordvoerder van Nehawu, Lwazi Nkolonzi, sê dis glo gedoen sonder die toestemming van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, soos deur die NSFAS-wet vereis:
# Die ANC in Kaapstad sê agter die DA se beeld van goeie bestuur is verwaarloosde gemeenskappe, vervalle infrastruktuur en ‘n munisipaliteit wat nie die grondwetlike regte van baie inwoners handhaaf nie. Volgens die Openbare Beskermer se verslag lewer die metro nie basiese dienste in Langa en Khayelitsha nie. Judy-Ann Stevens van die ANC sê die bevindings toon die werklikheid wat werkersklas-gesinne al lank beleef:
# Die Amerikaanse weermag het gisteraand nog ʼn vlaag lugaanvalle op Iran uitgevoer. Ontploffings is aangemeld in die hawestad Bandar Abbas in die Straat van Hormoes, in Sirik, en in die suid-westelike Bushehr-provinsie waar Teheran se kernkrag-aanleg geleë is. Amerika se Sentrale Bevel sê die aanvalle is uitgevoer om Iran se vermoë om vrye deurgang in die Straat van Hormoes te bedreig, verder te beperk. Iran se parlementêre speaker en hoofonderhandelaar, Mohammad Bagher Ghalibaf, sê Amerika het nog nie geleer dat afknouery en verbreekte beloftes gevolge het nie.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad beskuldig Engeland en Wallis se Krieketraad dat hy die teen-korrupsiekode oortree het nadat hy verlede maand beeldmateriaal gedeel het van kaptein Ben Stokes se uittree-toespraak in die kleedkamer. Die beeldmateriaal van die 35-jarige Stokes is met uitsaaiers en op sosiale media gedeel kort voor rustyd in die derde toets teen Nieu-Seeland by Trent Bridge. Die IKK sê die video se uitsending in die middel van ʼn wedstryd, oortree standaarde vir spelers en wedstryd-beamptes se areas by internasionale wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-981-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-59-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….