Nuus 06:00
BULLETIN 9 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie ondersoek transversale kontrakte
# Die burgemeester van Johannesburg sê finansiële beheermaatreëls het verbeter
# En rugby: Kai Pratt van die Sharks toets positief vir ‘n anaboliese steroïde
# Die Nasionale Tesourie het ‘n forensiese ondersoek van stapel gestuur na bewerings van onbehoorlike gedrag wat ‘n voormalige senior werknemer betrek. Dit volg op bewyse by die Madlanga-kommissie dat ‘n voormalige verkrygingsbeampte, Molefe Fani, die toekenning van transversale kontrakte van miljarde rand onbehoorlik beïnvloed het. Transversale kontrakte is groot verkrygingsooreenkomste wat deur die Kantoor van die Hoofverkrygingsbeampte namens verskeie regeringsdepartemente bestuur word. Die Tesourie sê die ondersoek sal die waarheid van die bewerings toets en maatreëls bepaal om die verkrygings- en toekenningsprosesse binne die transversale kontrakteringstelsel te versterk.
# Die Departement van Gesondheid sê hulle het vanjaar se halfjaar- mediese internskap en gemeenskapsdiens-plasingsiklus suksesvol voltooi, met alle kwalifiserende Suid-Afrikaanse burgers en permanente inwoners wat in befondsde poste geplaas is. Meer as 600 gesondheidsorgpersoneel is landwyd aan fasiliteite toegeken. Foster Mohale van die Departement sê 77 aansoekers het hul plasings van die hand gewys, met baie wat onwillig is om in plattelandse en onderbediende gemeenskappe te werk:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het die name van 16-duisend-556 werkgewers gepubliseer wat nie hulle aftreefondsbydraes nagekom het nie. Dit raak ongeveer 590-duisend lede en laat 8,33-miljard-rand onbetaald. Die woordvoerder van die owerheid, Keabetswe Tsuene, sê die stap is daarop gemik om deursigtigheid te verbeter, die lede van aftreefondse te beskerm en werkgewers aan te moedig om aan die wet te voldoen. Die reguleerder sê hy sal voortgaan om met wetstoepassing en ander staatsagentskappe saam te werk om uitstaande bydraes te verhaal en werkgewers wat nie betaal nie, aanspreeklik te hou.
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, sê finansiële beheermaatreëls het verbeter ten spyte van toenemende skuld- en diensleweringsdruk. Die Nasionale Tesourie het tydelik 13,5-miljard-rand in toekennings teruggehou wat bedoel is vir 69 munisipaliteite landwyd, insluitend 3,6-miljard-rand vir Johannesburg. Die doel is om fiskale dissipline te vestig en munisipaliteite te dwing om ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes te hanteer. Morero sê die metro se verhouding met die Tesourie lewer positiewe resultate:
# Build One South Africa sê Zimbabwe se nuwe Grondwetwysigingswet is ‘n magsgreep wat demokrasie bedreig deur presidensiële magte uit te brei en onafhanklike instellings te verswak. Die party het ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Afrika-Unie gedoen om die veranderinge teen te staan. Die leier van BOSA, Mmusi Maimane sê die veranderinge verskans Zanu-PF se bewind en bedreig grondwetlike regering en die oppergesag van die reg in Zimbabwe.
# Rugby: Die Haaie se Junior Springbok-stut, Kai Pratt, het besluit om sy B-monster te laat toets nadat hy positief getoets het vir ‘n anaboliese steroïde. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport het die positiewe toets bevestig. Pratt het onlangs weens ‘n besering aan die Suid-Afrikaanse onder-20-span onttrek. Hy is in April getoets, kort voor die begin van die onder-20-kampioenskap in Gqeberha. Sport24 berig dat ‘n datum nog bepaal moet word vir die res van die proses. Pratt het nog nie besluit of hy die bewerings gaan betwis nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-219-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-76-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….