Nuus 15:00
BULLETIN 8 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa word gevra om die Madlanga-kommissie se sperdatum uit te stel
# ‘n Kenner sê die onrus oor onwettige immigrante kan toerisme en handel skaad
# En rugby: Die Junior Bokke se afrigter sê daar is ruimte vir verbetering voor die Wêreldkampioenskap se halfeindronde
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra president Cyril Ramaphosa om dringend die Madlanga-kommissie se sperdatum uit te stel. Daar is minder as ‘n maand oor voor die verrigtinge gestaak word, en die kommissie onderhandel met die Presidensie oor uitstel. Woordvoerder Claude Naicker sê uitstel sal die kommissie tyd gee om alle toepaslike getuienis uit die Polisiediens en Korrektiewe Dienste aan te hoor, en sal verseker dat alle geloofwaardige bewerings ondersoek word:
# Die Helen Suzman-stigting verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak dat twee bepalings van die Wet op Vlugtelinge ongrondwetlik is. Daar is bevind enige persoon wat asiel soek, mag nie toegang tot die stelsel geweier word omdat hulle nie die vereiste dokumente het of nie binne die voorgeskrewe tyd by ʼn vlugtelingsentrum aangemeld het nie. Woordvoerder Chanel van der Linde sê die beslissing bevestig Suid-Afrika se internasionale en grondwetlike verpligtinge teenoor vlugtelinge:
Die migrasie-kenner Loren Landau sê intussen betogings teen onwettige immigrante kan Suid-Afrika miljarde rand kos deur beleggersvertroue en die land se internasionale beeld te skaad. Landau het aan CapeTalk gesê die uitwerking strek verder as opsetlike beskadiging en ontwrigte ondernemings, en raak toerisme, handel en toekomstige beleggings. Hy waarsku voortdurende geweld verbind aan onwettige immigrasie kan veroorsaak dat internasionale beleggers en vennote sake met Suid-Afrika heroorweeg.
# Die Verenigde Nasies se Handels- en Ontwikkelingsagentskap sê regstreekse buitelandse beleggings in Afrika het verlede jaar ongeveer 1,1-duisend-miljard-rand beloop, wat dit die vasteland se derde hoogste invloei sedert 1990 maak, ondanks ‘n afname vanaf 2024. Die VN se jongste Wêreldbeleggingsverslag sê beleggers bly gefokus op energie, infrastruktuur, kritieke minerale en tegnologie. Terwyl die waarde van nuwe projekte afgeneem het, het die aantal projekte toegeneem, wat dui op volgehoue langtermynvertroue. Die agentskap sê Afrikalande moet beleggings omskakel in werksgeleenthede, nywerheidsgroei, vaardigheidsontwikkeling en sterker streekvoorsieningskettings.
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, sê daar is steeds ruimte vir verbetering voor hulle Engeland Maandag pak in die halfeindronde van die Junior Wêreldkampioenskap in Georgië. Suid-Afrika was 14 punte agter, maar het ingehaal en Wallis uiteindelik 52-33 verslaan na agt drieë teenoor vyf om die voorlaaste ronde te haal. Foote sê hulle moet veral werk aan hulle verdediging en bal-behoud:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-25-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-50-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….