Nuus 13:00
BULLETIN 8 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Spanning neem toe terwyl Suid-Afrikaanse toeriste aangesê word om Mosambiek te verlaat
# Krieket: Engeland verneder Indië in die derde T20 op Trent Bridge
# En BackaBuddy verwyder ‘n fondsinsameling vir Peet Viljoen se regskoste
# Spanning tussen Suid-Afrika en Mosambiek het na toeristegebiede oorgespoel, met sommige Suid-Afrikaanse besoekers wat voorgekeer en aangesê is om Mosambiek te verlaat. Dit volg op betogings teen onwettige immigrante in Suid-Afrika wat volgens berigte die lewens van Mosambiekse burgers geëis het. Mosambiek het sedertdien meer as 900 burgers uit Suid-Afrika gerepatrieer. Video’s op sosiale media het verdeelde reaksies ontlok, met sommige wat botsings veroordeel en ander wat vergelding steun. President Filipe Nyusi het steun beloof vir terugkerendes omdat die meerderheid hul huise, ondernemings, besittings en dokumente verloor het.
# Activists and Citizens Forum will hê die EFF se leier, Julius Malema, moet voor die Madlanga-kommissie verskyn. Getuienisleiers het gister ‘n reeks WhatsApp-boodskappe onthul wat volgens hulle aandui hy is as tussenganger gebruik tussen die omstrede Misdaadintelligensie-offisier Feroz Khan en die tabak-sakeman Mohammed Sayed. Dennis Bloem van die forum sê die beste manier waarop Malema die bewerings kan weerlê, is om vrae te beantwoord voor die kommissie:
# Die Nasionale Tesourie sê munisipaliteite moet eers ooreenkomste oor volhoubare betalingsplanne met hul skuldeisers bereik voordat teruggehoue fondse vrygestel word. Gister is aangekondig befondsing aan 69 munisipaliteite sal tydelik teruggehou word weens oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Ogalaletseng Gaarekwe van die Tesourie het vanoggend op ‘n nuuskonferensie gesê die reëlings sal munisipaliteite help om hul finansiële verpligtinge na te kom, basiese dienslewering handhaaf en finansiële bestuur verbeter:
# Krieket: Indië lek sy wonde nadat Engeland hom verneder het in die derde T20 op Trent Bridge in Nottingham. Die gasheer het 201 vir sewe aangeteken na aanvangskolwer Phil Salt se 70. Harshit Rana en Prince Yadav het elk twee paaltjies geneem. Indië is daarna binne 12 boulbeurte vir net 76 uitgeboender. Die hoogste tellings was Vaibhav Sooryavanshi en Ishan Kishan se 13. Josh Tongue het vier kolwers uitgehaal en Jofra Archer drie. Dis Indië se tweede laagste T20-telling na sy 74 teen Australië in Melbourne in 2008.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-910-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-53-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Die skarebefondsingsplatform BackaBuddy het ‘n fondsinsamelingsveldtog verwyder wat van stapel gestuur is om die regskoste van die omstrede sakeman Peet Viljoen te dek. Hy staan tereg op meer as 400 aanklagte, insluitend bedrog, diefstal, korrupsie en vervalsing. ‘n Familievriend het die veldtog begin om 400-duisend-rand in te samel, maar het slegs sowat drie-duisend-500-rand ontvang voor dit gesluit is. BackaBuddy sê die fondsinsameling is verwyder in ooreenstemming met die platform se standaarde, bepalings en voorwaardes. Hulle sê kwalifiserende skenkings sal terugbetaal word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….