Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na sokker: Net agt spanne is nou oor in die wedloop om die Wêreldbeker te wen, met die kwarteindronde wat môre begin. Frankryk sit sy poging voort om slegs die tweede Europese land te word om drie agtereenvolgende eindstryde te haal wanneer hy in Boston teen Marokko te staan kom. 2010 se kampioen, Spanje, pak België Vrydag in Los Angeles. Engeland speel Saterdag in Miami teen Noorweë, wat die eerste keer die kwarteindronde gehaal het. Die verdedigende kampioen, Argentinië, en Switserland speel Sondag in Kansas in die laaste kwarteindstryd.
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, sê daar is steeds ruimte vir verbetering voor hulle Engeland Maandag pak in die halfeindronde van die Junior Wêreldkampioenskap in Georgië. Suid-Afrika was 14 punte agter, maar het ingehaal en Wallis uiteindelik 52-33 verslaan na agt drieë teenoor vyf om die voorlaaste ronde te haal. Foote sê hulle moet veral werk aan hulle verdediging en bal-behoud:
Ander rugbynuus: Die statistiek is in Suid-Afrika se guns in Saterdag se toets teen Skotland op Loftus Versfeld in Pretoria. Die twee lande het reeds 30 keer teen mekaar gespeel, waarvan die Springbokke 25 gewen het en die Skotte slegs vyf. Die wêreldkampioen se grootste oorwinning van 68-10 was in Desember 1997 op Murrayfield in Edinburgh, toe die losskakel Percy Montgomery 26 punte aangeteken het. In 1951 het die Bokke op dieselfde veld 44-0 geseëvier, wat gelei het tot die uitdrukking dat Skotland gelukkig was om nul te kry.
# Krieket: Indië lek sy wonde nadat Engeland hom verneder het in die derde T20 op Trent Bridge in Nottingham. Die gasheer het 201 vir sewe aangeteken na aanvangskolwer Phil Salt se 70. Harshit Rana en Prince Yadav het elk twee paaltjies geneem. Indië is daarna binne 12 boulbeurte vir net 76 uitgeboender. Die hoogste tellings was Vaibhav Sooryavanshi en Ishan Kishan se 13. Josh Tongue het vier kolwers uitgehaal en Jofra Archer drie. Dis Indië se tweede laagste T20-telling na sy 74 teen Australië in Melbourne in 2008.
# En die Internasionale Olimpiese Komitee het die Russiese Olimpiese Komitee se skorsing voorwaardelik opgehef en Russiese atlete kan nou aan sommige span-items en kwalifiserende kompetisies deelneem voor 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles. Die Russiese vlag en volkslied word steeds verbied. Die IOK se president, Kirsty Coventry, sê ‘n atleet se deelname aan internasionale kompetisies moenie beperk word wanneer hulle land in ʼn oorlog gewikkel is nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….