Nuus 12:00
BULLETIN 8 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Activists and Citizens Forum wil hê Julius Malema moet voor die Madlanga-kommissie verskyn
# Die Regspraktykraad wil die gewese Openbare Beskermer van die rol van advokate skrap
# En Shell handel amptelik ‘n ooreenkoms af om sy brandstofbedrywighede in Suid-Afrika te verkoop
# Activists and Citizens Forum will hê die EFF se leier, Julius Malema, moet voor die Madlanga-kommissie verskyn. Getuienisleiers het gister ‘n reeks WhatsApp-boodskappe onthul wat volgens hulle aandui hy is as tussenganger gebruik tussen die omstrede Misdaadintelligensie-offisier Feroz Khan en die tabak-sakeman Mohammed Sayed. Dennis Bloem van die forum sê die beste manier waarop Malema die bewerings kan weerlê, is om vrae te beantwoord voor die kommissie:
# Die Regspraktykraad het ‘n nuwe aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, van die advokate-rol te skrap en sê sy is onwaardig om in die regsberoep aan te bly. Die aansoek volg op haar ampsklag vir wangedrag en onbevoegdheid in 2023. Die raad voer aan talle ongunstige hofuitsprake teen haar toon sy is nie geskik om te praktiseer nie. Mkhwebane het die aansoek verlede jaar verwerp as polities gemotiveerd.
# Shell het amptelik ‘n ooreenkoms afgehandel om 100-persent van sy aandelebelang in Shell Downstream South Africa aan Abu Dhabi se staatsbeheerde energiereus, ADNOC Distribution, te verkoop teen ongeveer 16,2-miljard-rand. Die ooreenkoms sluit 580 vulstasies in, asook Shell se groothandelbrandstof-, lugvaart- en smeermiddelbedrywighede. ADNOC Distribution sal ‘n belang van 28-persent aan ‘n plaaslike swart ekonomiese bemagtigings-vennoot verkoop as deel van die ooreenkoms . Die ikoniese Shell-embleem word behou. Shell beklemtoon daar is geen werksverliese nie, en daaglikse bedrywighede, insluitend geriefswinkels, gaan ononderbroke voort.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag het meer as 80 teikens getref in ‘n reeks aanvalle teen Iran. Dit sluit meer as 60 klein bote van die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps in die Seestraat van Hormoes in. Qeshm-eiland, Bandar Abbas en Sirik is getref. Amerika se Sentrale Bevel sê die doel was om groot skade te veroorsaak weens Iran se aanvalle op handelskepe met onskuldige bemannings in die seestraat. Teheran sê hy het 85 Amerikaanse militêre terreine in Bahrein en Koeweit geteiken weens die skending van die skietstilstand.
Nou sportnuus:
# Die Internasionale Olimpiese Komitee het die Russiese Olimpiese Komitee se skorsing voorwaardelik opgehef en Russiese atlete kan nou aan sommige span-items en kwalifiserende kompetisies deelneem voor 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles. Die Russiese vlag en volkslied word steeds verbied. Die IOK se president, Kirsty Coventry, sê ʼn atleet se deelname aan internasionale kompetisies moenie beperk word wanneer hulle land in ʼn oorlog gewikkel is nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-975-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-83-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….