Nuus 11:00
BULLETIN 8 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU sê plaaslike regering se verval is nie bloot weens korrupsie en swak bestuur nie
# Amerika voer nuwe aanvalle op Iran uit en Teheran teiken Amerikaanse militêre basisse
# En die Internasionale Olimpiese Komitee hef Rusland se skorsing voorwaardelik op
# Die vakverbond SAFTU sê munisipaliteite kan nie voortgaan om sonder aanspreeklikheid staatsfondse te ontvang nie, en korrupsie, wanadministrasie, finansiële wanbestuur en die plundering van hulpbronne het dienslewering verwoes. Die Nasionale Tesourie weerhou tydelik 69 munisipaliteite se Julie-fondse omdat hulle versuim om belangrike finansiële verpligtinge na te kom. Hoofsekretaris Zwelinzima Vavi waarsku egter die verval van munisipaliteite word nie net veroorsaak deur korrupsie en swak bestuur nie:
Die munisipale vakbond SAMWU sê intussen onderbefondsing, korrupsie en gebrekkige infrastruktuur het plaaslike regering en die watersektor in ‘n krisis gedompel. Die vakbond gaan môre betoog by die Nasionale Tesourie en ander staatsdepartemente in Tshwane. SAMWU verwag binne 14 werksdae ‘n skriftelike reaksie op sy versoekskrif. Hoofsekretaris Dumisane Magagula sê hulle eis verhoogde befondsing vir munisipaliteite, ‘n einde aan uitkontraktering, sterker beskerming vir werkers, kollektiewe bedinging en verbeterde openbare dienste.
Die DA het intussen dokumente by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die besluit van Tshwane se raad te hersien om die onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, te beboet. Daar is bevind hy het raadslede se gedragskode oortree deur nie sy finansiële belange te verklaar in Triotic Protection Services, wat ‘n kontrak vir veiligheidsdienste in Tshwane het nie. Cilliers Brink van die DA sê die raad se besluit ondermyn die integriteit van plaaslike regering:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag het meer as 80 teikens getref in ʼn reeks aanvalle teen Iran. Dit sluit meer as 60 klein bote van die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps in die Seestraat van Hormoes in. Qeshm-eiland, Bandar Abbas en Sirik is getref. Amerika se Sentrale Bevel sê die doel was om groot skade te veroorsaak weens Iran se aanvalle op handelskepe met onskuldige bemannings in die seestraat. Teheran sê hy het 85 Amerikaanse militêre terreine in Bahrein en Koeweit geteiken weens die skending van die skietstilstand.
Nou sportnuus:
# Die Internasionale Olimpiese Komitee het die Russiese Olimpiese Komitee se skorsing voorwaardelik opgehef en Russiese atlete kan nou aan sommige span-items en kwalifiserende kompetisies deelneem voor 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles. Die Russiese vlag en volkslied word steeds verbied. Die IOK se president, Kirsty Coventry, sê ʼn atleet se deelname aan internasionale kompetisies moenie beperk word wanneer hulle land in ʼn oorlog gewikkel is nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-533-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-119-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….