Nuus 09:00
BULLETIN 8 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SALGA sê plaaslike regering benodig dringende ondersteuning en hervorming
# Die president van Zimbabwe verleng sy presidensiële termyn tot 2030
# En sokker: Argentinië en Switserland is deur na die Wêreldbeker-kwarteindronde
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regerings sê plaaslike regering beleef steeds strukturele en sistemiese fiskale uitdagings wat dringende ondersteuning en hervorming vereis. Die Nasionale Tesourie hou die Julie-oordrag van fondse aan 69 munisipaliteite tydelik terug in ‘n poging om fiskale dissipline af te dwing, finansiële wanbestuur aan te spreek, en verantwoordbaarheid te verseker. Die SALGA-woordvoerder, Motalatale Modiba, sê enige terughouding van fondse moet voldoeningsdoelwitte met die uitwerking daarvan op dienslewering en munisipale finansiële volhoubaarheid balanseer:
# Die DA doen ‘n beroep op alle provinsiale onderwysdepartemente om dringend skole wat nog sanitasieprobleme het, te identifiseer en duidelike planne en tydlyne te verskaf oor hoe hulle dit gaan hanteer. Dit volg nadat die Departement van Basiese Onderwys al drie-duisend-372 sanitasieprojekte by skole afgehandel het wat in die 2018-oudit oor sanitasie geïdentifiseer is. Desiree van der Walt van die DA sê veilige toilette moes nooit beskou word as ʼn ambisieuse beleidsdoelwit nie, maar is die minste wat elke kind verdien:
# Die Stad Kaapstad sê hy is bemoedig deur die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, se erkenning dat dit moeilik is om gratis dienste te lewer sonder voldoende ondersteuning van die nasionale regering. Gcaleka het bevind die Stad Kaapstad het van sy kwesbaarste gemeenskappe in die steek gelaat deur nie basiese munisipale dienste te verskaf nie. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die metro is reeds besig om die ingewikkelde uitdagings van informele en onwettige besetting te hanteer:
# Zimbabwe se president, Emmerson Mnangagwa, het grondwetlike wysigings onderteken wat die presidensiële termyn van vyf tot sewe jaar verleng. Dit beteken die 83-jarige Mnangagwa bly tot 2030 aan bewind. Albei huise van die Parlement het die omstrede wysigings verlede maand aanvaar. Die omvattende veranderings wat kritici ʼn “grondwetlike staatsgreep” noem, sluit ook in dat die president deur die Parlement eerder as regstreekse algemene stemming gekies word. Mnangagwa se regering verdedig die hervormings en sê dis gemik op politieke bestendigheid, kontinuïteit en ondersteuning van langtermyn- nasionale ontwikkeling.
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Argentinië, het herstel na ʼn agterstand van twee doele en Egipte met 3-2 verslaan in die Wêreldbeker se ronde van 16 in Atlanta. Egipte het meer as ʼn uur voorgeloop na doele deur Yasser Ibrahim en Mostafa Ziko. Cristian Romero se doel in die 79ste minuut het Argentinië moed gegee, en kaptein Lionel Messi het die telling gelykop gemaak. Enzo Fernández se doel in die laaste minute het die oorwinning vir Lionel Scaloni se span beklink. Switserland het Colombië in Vancouver met 4-3 verslaan en hul kwarteindstryd teen Argentinië bespreek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-683-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-125-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….