Nuus 08:00
BULLETIN 8 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson sê projekte ter waarde van 63-miljard-rand word deur die bou-mafia ontwrig
# March and March het sy aksieplan vir die volgende drie maande bekend gemaak
# En die ANC sê die Openbare Beskermer se verslag oor Kaapstad ontbloot jare se politieke propaganda
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê daar is meetbare vordering in optrede teen afpersing en intimidasie in die boubedryf. Volgens die bedryf word ongeveer 180 openbare infrastruktuurprojekte ter waarde van 63-miljard-rand weens afpersing, intimidasie of geweld vertraag. Die bou-mafia is veral bedrywig in KwaZulu-Natal, Gauteng en die Oos-Kaap. Macpherson sê gevolgebestuur is ook verskerp en 52 kontrakteurs is sedert September 2025 op ‘n swartlys geplaas:
# Die groep teen immigrasie, March and March, se nasionale uitvoerende komitee het ʼn aksieplan vir die volgende drie maande bekendgestel wat nog betogings, plakkaat-betogings en blits-operasies in belangrike ekonomiese sentrums in Suid-Afrika insluit. Teenkanting teen onwettige immigrante in die land het die afgelope maande skerp toegeneem. Die beweging sê hy wil met rolspelers en politieke partye saamwerk aan ʼn Nasionale Dialoog oor die oorsake van ongeoorloofde immigrasie, die gevolge daarvan en moontlike oplossings. March and March sê hy wil landsburgers opvoed oor hulp, bystand en huisvesting aan onwettige immigrante.
# Die ANC in die Groter Johannesburg-streek sê die Openbare Beskermer se verslag oor regering- en diensleweringsmislukkings in die Stad Kaapstad, verwoes die sorgvuldig vervaardigde mite dat die DA beter regeer. Advokaat Kholeka Gcaleka van die Openbare Beskermer het bevind die metro het versuim om basiese munisipale dienste aan inwoners van Langa en Khayelitsha te verskaf, en sê dit kom neer op wanadministrasie en onbehoorlike vooroordeel. ANC-woordvoerder, Mantombi Nkosi, sê die verslag ontbloot die werklikheid agter jare se politieke propaganda:
# President Volodymyr Zelensky het sy oproep herhaal vir Oekraïne om by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie aan te sluit, en sê sy land is ‘n bron van buitengewone verdedigingsvermoë vir die alliansie. Hy het gister die jaarlikse NAVO-beraad in Ankara, Turkye, toegespreek. Oekraïne se hoop om ‘n lid van NAVO te word, bly ‘n uitdaging, met lande soos die VSA en Hongarye wat gekant is teen die toelating van ‘n land wat in ‘n oorlog met Rusland gewikkel is. Zelensky sê Oekraïne het baie om aan NAVO te bied:
# Tennis: Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, het Felix Auger-Aliassime in die langste kwarteindstryd in Wimbledon-geskiedenis geklop om sy 15de halfeindronde te haal. Die Serwiër het die Kanadees in vyf-ure-en-15-minute met 7-6, 3-6, 6-3, 6-7, 7-6 verslaan. Djokovic kom nou teen die verdedigende kampioen van Italië, Jannik Sinner, te staan, wat die Duitser Jan-Lennard Struff geklop het. In die vroueafdeling het die Amerikaner, Coco Gauff, deurgedring na haar eerste Wimbledon-halfeindronde nadat sy met haar landgenoot, Jessica Pegula, afgereken het. Gauff en Karolina Muchova sal sake uitspook nadat die Tsjeg Naomi Osaka van Japan verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-915-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-128-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….