Nuus 07:00
BULLETIN 8 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê jeugwerkloosheid moet aangespreek word
# Meer as 200 vermeende onwettige mynwerkers is in Westonaria gearresteer
# En Donald Trump dreig om Amerikaanse troepe uit Europa te onttrek
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, vra ‘n data-gedrewe, bewys-gebaseerde benadering om Suid-Afrika se probleem met jeugwerkloosheid aan te spreek. Volgens Statistiek Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagpeiling wat in Mei vrygestel is, is 60,9-persent van jeugdiges tussen 15 en 24 jaar werkloos, en 40,6-persent van dié tussen 25 en 34 jaar. Godongwana het by die regering se Tegniese Adviessentrum se Openbare Ekonomie-konferensie gesê werkloosheid onder die jeug moet getakel word met ʼn vinniger groeiende, inklusiewe ekonomie. Hy sê groei vereis hervorming en implementering.
# Business Partners Limited sê stygende brandstofpryse en wêreldwye onsekerheid dwing baie Suid-Afrikaanse klein en mediumgrootte ondernemings om te fokus op oorlewing. Die jongste KMO-vertrouensindeks toon sakevertroue het afgeneem en meer as 90-persent van ondernemings sê brandstofprysverhogings veroorsaak hoër bedryfskoste. Die verslag onthul baie ondernemings reageer deur pryse te verhoog, koste te besnoei en hul bedrywighede aan te pas, terwyl hulle op veerkragtigheid fokus te midde van voortdurende ekonomiese druk.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake verwelkom Nasionale Tesourie se besluit om 69 munisipaliteite se fondse vir Julie voorlopig te weerhou. Dit sluit die Stad Johannesburg, Nelson Mandelabaai, Mangaung en Matjhabeng in. Tesourie sê die weerhouding van fondse moet fiskale dissipline vestig, seker maak staatsgeld word behoorlik bestuur en munisipaliteite dwing om ongemagtigde, onregmatige, vrugtelose en verkwistende besteding te hanteer. Die komiteevoorsitter, Zweli Mkhize, sê openbare verteenwoordigers en munisipale bestuurders moet aanspreeklik gehou word wanneer finansiële bestuur onder verdenking gebring word.
# Polisie in Gauteng het gister as deel van Operasie Prosper meer as 217 vermeende onwettige mynwerkers by die Losberg Kloof Myn in Westonaria gearresteer. Die operasie is deel van ʼn voortgesette nasionale veldtog om onwettige mynsindikate en trans-nasionale misdaadnetwerke wat in Suid-Afrika se mynboustreke bedrywig is, te ontbloot. Gauteng se adjunk-polisiekommissaris, Fred Kekana, sê die meeste onwettige mynwerkers is van Zimbabwe, Mosambiek en Lesotho:
# President Donald Trump van Amerika het weereens die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie gekritiseer omdat die organisasie nie Amerika met sy oorlog teen Iran help nie. Trump woon tans NAVO se jaarlikse beraad in Ankara, Turkye, by. Hy dreig om Amerikaanse soldate aan Europa te onttrek. Dis die tweede jaar dat Amerika eis dat NAVO-bondgenote hul verdediging-besteding tot vyf-persent verhoog. Trump sê hy is baie teleurgesteld in NAVO:
# Rugby: Die statistiek is in Suid-Afrika se guns in Saterdag se toets teen Skotland by Loftus Versfeld in Pretoria. Die twee lande het in die verlede 30 keer teen mekaar gespeel, waarvan die Springbokke 25 gewen het en die Skotte slegs vyf. Die wêreldkampioene se grootste oorwinning van 68-10 was in Desember 1997 op Murrayfield in Edinburg, met losskakel Percy Montgomery wat 26 punte aangeteken het. Reeds in 1951 het die Bokke met 44-0 op dieselfde veld geseëvier, wat gelei het tot die uitdrukking dat Skotland gelukkig was om nul punte aan te teken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-343-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-100-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….