Nuus 15:00
BULLETIN 7 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie hoor van ‘n beweerde VBS-inligtinglekkasie vanaf Khan na Malema
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku Europa kan nog dodelike hittegolwe ervaar
# En rugby: ‘n Groot terugslag vir die Wallabies met twee spelers beseer voor die wedstryd teen Frankryk
# Die Madlanga-kommissie het bewerings aangehoor oor die senior polisie-offisier Feroz Khan wat vertroulike polisie-inligting met die EFF-leier Julius Malema gedeel het, rakende ‘n bedrogklagte rondom VBS Bank. WhatsApp-boodskappe wat getuienisleier Michael Chaskalson voorgelees het, beweer Mohamed Sayed het die VBS-kurator, Anoosh Rooplal, se huisadres aan Malema verskaf. Chaskalson sê VBS se voormalige voorsitter, Tshifhiwa Matodzi, het in ‘n pleitooreenkoms beweer Malema en die EFF het miljoene rand se omkoopgeld ontvang:
Die Vryheidsfront Plus het die Openbare Beskermer intussen gevra vir ‘n ondersoek na die proses wat gelei het tot die voorlopige skorsing van Tshwane se stadsbestuurder. Johann Mettler word beskuldig van finansiële wangedrag, wanadministrasie en growwe pligsversuim. Grandi Theunissen van die VF Plus sê daar is ‘n sterk vermoede dat die besluit polities gemotiveerd is en verband hou met Mettler se standpunt oor sekere tenderprosesse wat tans deur die Madlanga-kommissie ondersoek word:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, is verheug dat die Departement van Basiese Onderwys se projek van 2018 om put-toilette by skole te vervang, uiteindelik afgehandel is. Drie-duisend-372 skole wat in die 2018-oudit geïdentifiseer is, het nou veilige en behoorlike sanitasiegeriewe waaruit meer as drie-miljoen leerders voordeel trek. Makaneta sê hierdie prestasie wys wat bereik kan word as kinders se welstand voorkeur kry:
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku Europa kan nog dodelike weke verwag terwyl nog ‘n hittegolf tans oor die Atlantiese Oseaan vorm. Die streeksdirekteur vir Europa, Hans Kluge, het ‘n noodvergadering gehou met verteenwoordigers van 41 lande in die streek, die Europese Kommissie en burgerlike samelewingsgroepe om lesse uit die onlangse hittegolf en hitte-gesondheidsaksieplanne te bespreek. Frankryk, Nederland en België het drie-duisend-700 sterftes weens die hittegolf aangeteken, met temperature wat 40-grade Celsius bereik het.
# Rugby: Australië se losskakel, Carter Gordon, en die voorspeler Tom Hooper is weens bewerings nie beskikbaar vir Saterdag se Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Frankryk in Brisbane nie. Gordon sal ook volgende week se wedstryd teen Italië in Perth misloop nadat hy ‘n kuitbesering opgedoen het in die naelskraapse nederlaag van 31-33 teen Ierland. Hooper het sy skouer beseer. Die nuweling-losskakel Harry McLaughlin-Phillips is as plaasvervanger vir Gordon gekies, maar Ben Donaldson sal waarskynlik teen Frankryk begin na hy Gordon vroeg in die tweede helfte teen Ierland vervang het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-139-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-143-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….