Nuus 13:00
BULLETIN 7 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie stel Matlala se getuienis tot volgende Woensdag uit
# Die Nasionale Tesourie hou toelaes aan 69 plaaslike owerhede tydelik terug
# En sokker: Brasilië se voorste doelskieter Neymar tree uit internasionale sokker
# Die Madlanga-kommissie het die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala se getuienis tot volgende Woensdag uitgestel. Getuienisleier Mahlape Sello het uitstel versoek omdat sy Regulasie 10.6-verklaring weens logistieke uitdagings nie gereed is nie. Matlala sal voor die kommissie verskyn twee dae na Maandag se verskyning voor die Pretoriase Handelsmisdaadhof vir sy pleitooreenkoms in die Medicare24-saak. Sy prokureur, Anneline van den Heever, het ook ingestem dat sy verklaring môre ingedien sal word:
# Die Nasionale Tesourie gaan tydelik die Julie-toelae van 69 munisipaliteite terughou om fiskale dissipline af te dwing en te verseker dat openbare geld behoorlik bestuur word. Onder diegene wat geraak word, is die Stad Johannesburg, Mangaung en Nelson Mandelabaai. Die Tesourie sê die besluit volg op volgehoue en ernstige nie-nakoming van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, ondanks die ondersteuning wat die instelling verskaf. Hy voeg by die plaaslike owerhede sal eers hul geld ontvang sodra hulle bewys dat hulle regstellende stappe gedoen het.
# Forum for South Africa vra die regering om aansienlik meer te belê in grensbeveiliging, immigrasie-afdwinging en moderne toesigtegnologie. Die Departement van Binnelandse Sake werf ‘n bykomende 301 immigrasie-amptenare om afdwinging te versterk. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, glo dis steeds nie voldoende om die omvang van die land se onwettige immigrasiekrisis te hanteer nie:
Die Koördineringskomitee van die Zimbabwiese Vrystellingspermit sê intussen duisende Zimbabwiese leerders word uit Suid-Afrikaanse skole onttrek weens deportasie, wat kommer veroorsaak oor die voortsetting van hul onderwys. Die komitee waarsku matriek- en senior graad-leerders worstel met groot leerplan-hindernisse indien hulle gedurende die skooljaar van skool moet verander. Die komitee stel voor leerders wat geraak is moet in Zimbabwe voortgaan met die Suid-Afrikaanse leerplan en beoordelings-beleidsverklaring. Die groep beplan om die saak onder die aandag van albei regerings te bring.
# Sokker: Die legendariese Neymar tree uit as Brasilië se voorste doelskieter van alle tye na ‘n glinsterende internasionale loopbaan van 16 jaar. Dit het egter op ‘n laagtepunt geëindig toe sy land in New Jersey teen Noorweë verloor het in die Wêreldbekertoernooi se ronde van 16. Die 34-jarige middelveldspeler het sy uittrede bevestig nadat hy sy land se enigste doel in die nederlaag van 2-1 aangeteken het in dieselfde stadion waar hy in 2010 sy eerste doel vir Brasilië aangeteken het. Hy het 80 doele in 130 wedstryde ingeskop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-148-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-126-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….