Nuus 11:00
BULLETIN 7 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA se uitvoerende federale raad ondersoek Steenhuisen se bewerings
# Die senior polisie-offisier Sindile Mfazi se dood in 2021 is nou ’n moordondersoek
# En sokker: Spanje klop Portugal en België skakel Amerika uit om die kwarteindronde van die Wêreldbeker te haal
# Die DA se federale voorsitter, Solly Msimanga, sê die party se uitvoerende federale raad sal die uitwerking van John Steenhuisen se bewerings oor oud-leier Tony Leon en sy skakelfirma, Resolve Communications, ondersoek. Steenhuisen beweer Leon het DA-ministers, insluitend Solly Malatsi, beïnvloed om vergaderings met Elon Musk se Starlink-verteenwoordigers te voer. Msimanga het aan die SABC gesê nie een van die DA-ministers of LUR’e is onbehoorlik beïnvloed nie:
# Die EFF sê die bevindinge van die ondersoek na die Staatsinligtingstegnologie-agentskap bevestig sy sienings dat die probleme voortspruit uit onvoldoende toesig, vermiste dokumente en ‘n gebrek aan besliste leierskap. Die ondersoek het ernstige tekortkominge in bestuur, bestedingsbeheer en kontrakbestuur blootgelê, met meer as twee-miljard-rand in onreëlmatige uitgawes. Die EFF sê minister Malatsi het nie sy verantwoordelikheid nagekom om SITA te hervorm nie. Die party vra die regering om die privatisering van SITA te keer en te fokus op die herlewing daarvan.
# Die polisie het ‘n deurbraak gemaak in die ondersoek na die dood van die gewese adjunk-nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing. Die 59-jarige Sindile Mfazi se dood in 2021 is aanvanklik toegeskryf aan Covid-19, maar forensiese toetse het later tekens van gif in sy oorskot gekry. Die polisie het gisteraand klopjagte uitgevoer op verskeie eiendomme van polisielede in Centurion, Pretoria. Nasionale woordvoerder Athlenda Mathe sê talle hoëprofiel-individue is as persone van belang geïdentifiseer:
Nuus uit die buiteland:
# Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie se 32 lidlande begin vandag ʼn tweedaagse beraad in Ankara, Turkye, te midde van spanning tussen NAVO en Amerika oor Iran en Groenland. Hulle het verlede jaar ooreengekom om vyf-persent van hul bruto binnelandse produk aan verdediging te bestee. Sekretaris-generaal Mark Rutte sê die drie belangrike voorkeure vir die beraad is die voortsetting van belegging in verdediging, om transatlantiese nywerheidsproduksie in verdediging te bevorder, en Oekraïne te ondersteun:
# Sokker: 2010 se kampioen, Spanje, en België gaan mekaar in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi ontmoet. Mikel Merino se doel in die doodsnikke in Dallas het Spanje ‘n oorwinning van 1-nul oor Portugal besorg in die ronde van 16. Portugal se afrigter, Roberto Martinez, het daarna bedank, terwyl kaptein Cristiano Ronaldo reeds vroeër aangekondig het dit sal sy laaste toernooi wees. België het die mede-gasheer, Amerika, in Seattle 4-1 geklop danksy Charles de Ketelaere se twee doele en een elk deur Hans Vanaken en Romelu Lukaku.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-318-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-126-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….