Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Noorweë het die vyfmalige kampioen, Brasilië, in New Jersey 2-1 verslaan en die eerste keer deurgedring na die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi. Erling Haaland het in die tweede helfte twee doele aangeteken en Neymar se laat doel vir Brasilië was nie genoeg vir Carlo Ancelotti se span nie. Engeland het die mede-gasheer, Mexiko, 3-2 uitgeskakel en speel nou teen Noorweë. Jude Bellingham het binne 98 sekondes twee doele aangeteken en kaptein Harry Kane het die oorwinning vir Engeland verseker met ‘n strafdoel.
FIFA het intussen die Amerikaanse doelskopper Folarin Balogun se skorsing van een wedstryd ná ‘n rooikaart teen Bosnië-Herzegowina opgehef en hy is beskikbaar vir die ronde van 16-wedstryd teen België. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het FIFA se president, Gianni Infantino, glo gevra om die straf te heroorweeg. Die beheerliggaam sê Balogun se outomatiese skorsing word vir ‘n jaar opgeskort, maar het geen rede verskaf nie. België se beheerliggaam sê hy is verstom oor FIFA se besluit en sal alle moontlikhede ondersoek.
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, verwag môre ‘n strawwe toets teen ‘n sterk Walliese span in die deurslaggewende Junior Wêreldkampioenskaps-groepswedstryd in Tbilisi, Georgië. Foote het ses veranderinge aangebring, vier aan die agterlyn, insluitend Alzeadon Felix wat van die bank skuif om op heelagter te begin, en twee onder die voorspelers. Albei spanne is onoorwonne, terwyl Suid-Afrika boaan die punteleer is danksy ‘n ekstra bonuspunt. Die wenner sal eerste eindig in Groep A en ‘n plek in die halfeindronde verseker.
# Krieket: Die kaptein van Engeland se vrouespan, Nat Sciver-Brunt, ontken dat sy oorweeg om uit te tree en wil steeds in groot toernooie speel. Australië het Engeland gister op Lord’s met sewe paaltjies verslaan om die T20-Wêreldbekertoernooi ‘n rekord sewende keer te wen. Die 33-jarige Sciver-Brunt, wat die hele toernooi met ‘n kuitspierbesering gesukkel het, sê die nederlaag is moeilik om te aanvaar, maar sy is uiters trots op hulle vertoning:
# En laastens, motorsport: Ferrari se renjaer, Charles Leclerc, het sy eerste oorwinning van die seisoen behaal toe hy ʼn chaotiese Britse Grand Prix gewen het. Die kampioenskaps-voorloper, Kimi Antonelli, was op koers om te wen, maar het die sege misgeloop weens ʼn tegniese probleem met sy Mercedes. Max Verstappen van Red Bull moes onttrek met vier rondes oor. Antonelli se spanmaat, George Russell, was tweede en Leclerc se spanmaat, Lewis Hamilton, derde. Russell het Antonelli se titel-voorsprong tot 25 punte verminder terwyl Hamilton sewe punte minder het in derde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….