Nuus 12:00
BULLETIN 6 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FOSA eis volle deursigtigheid oor Jacob Zuma se omstrede reis na Indië
# Minstens tien mense sterf en meer as 40 is beseer in Rusland se jongste aanvalle op Kiëf
# En sokker: Noorweë skok Brasilië en Engeland skakel die mede-gasheer Mexiko uit in die Wêreldbekertoernooi
# Forum for South Africa het kommer uitgespreek oor oudpresident Jacob Zuma se onlangse besoek aan Indië. Hy is tydens die reis afgeneem saam met Suid-Afrika se hoëkommissaris in Indië, Anil Sooklal, en die vermeende staatskapings-argitek, Ajay Gupta. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking ondersoek nou die kwessie. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die besoek laat ernstige vrae ontstaan oor aanspreeklikheid en die misbruik van oudpresidente se voorregte:
# Tax Justice South Africa vra die Nasionale Vervolgingsgesag om te verduidelik hoekom die sakeman Adriano Mazzotti nooit strafregtelik vervolg is nie. Dit is ondanks sy beweerde erkenning dat hy met tabak gesmokkel, belasting ontduik en pogings aangewend het om amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om te koop. Die organisasie se stigter, Yusuf Ambramjee, sê dit versterk kommer dat georganiseerde misdaad van binne afdelings van die strafregstelsel beskerm word:
# Eskom sê hy het aansienlike vordering gemaak met sy program om ladingvermindering te staak en meer as ‘n miljoen verbruikers is van die skedules verwyder. Dit verteenwoordig 65-persent van die 1,69-miljoen verbruikers wat op die program was. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die ladingsverminderingsprogram het aanvanklik 23,5-persent van die kragvoorsiener se 7,2-miljoen verbruikers geraak, maar danksy die program word slegs sowat 8,3-persent tans geraak:
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal in Rusland se jongste missiel- en hommeltuigaanvalle op die Oekraïense hoofstad, Kiëf, staan tans op tien, met minstens 46 mense gewond. Vanoggend se aanvalle het sowat 15 woonstel- en ander geboue erg beskadig. Die Russiese Ministerie van Verdediging beweer militêre en energie-aanlegte in die stad en die omgewing is getref, sowel as militêre vliegvelde in verskeie ander streke. Die ministerie het herhaaldelik ontken dat woongebiede geteiken is. Die aanval volg op verlede week se aanvalle op Kiëf waarin 30 mense dood is.
# Sokker: Noorweë het die vyfmalige kampioen, Brasilië, in New Jersey 2-1 verslaan en die eerste keer deurgedring na die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi. Erling Haaland het in die tweede helfte twee doele aangeteken en Neymar se laat doel vir Brasilië was nie genoeg vir Carlo Ancelotti se span nie. Engeland het die mede-gasheer, Mexiko, 3-2 uitgeskakel en speel nou teen Noorweë. Jude Bellingham het binne 98 sekondes twee doele aangeteken en kaptein Harry Kane het die oorwinning vir Engeland verseker met ‘n strafdoel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-975-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-156-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….