Nuus 09:00
BULLETIN 6 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre komitee vra die polisie om bykomende aanklagte teen Feroz Khan te oorweeg
# Adjunkminister Zikalala herbevestig die regering se verbintenis tot die uitbreiding van studenteverblyf
# En tennis, Novak Djokovic maak geskiedenis by Wimbledon, met Aryna Sabalenka wat uitgeskakel is
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, het die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gevra om bykomende aanklagte teen die geskorste adjunkhoof van misdaadintelligensie, Feroz Khan, te oorweeg. Die Madlanga-kommissie het verlede week getuienis aangehoor oor hoe Khan na bewering tenders namens die omstrede sakeman Mohammed “Mo” Sayed georganiseer het. Die tenders het ‘n SAPD-kontrak vir persoonlike beskermende toerusting tydens die Covid-19-pandemie ingesluit. Cameron sê die getuienis voor die kommissie versterk die komitee se voortgesette oproep vir omvattende leefstyloudits en integriteitsondersoeke, beginnende met senior polisiebestuur.
# Die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, het die regering se verbintenis herbevestig tot die uitbreiding van veilige, bekostigbare en gehalte-studenteverblyf. Hy sê die infrastruktuurprogram vir studentebehuising by universiteite en TVET-kolleges beoog om teen 2030 ongeveer 300-duisend beddens te lewer. Zikalala sê fase een het reeds minstens 12-duisend-219 beddens gelewer, ongeveer drie-duisend werksgeleenthede geskep en tot dusver beleggings van nagenoeg 3,5-miljard-rand gemobiliseer:
# Die Wes-Kaapse regering sê hy het die gekoördineerde humanitêre repatriasie om buitelandse burgers te help wat vrywillig na hul geboortelande wou terugkeer, suksesvol voltooi. Die repatriasie het gevolg na omvattende verifiëring, registrasie en logistieke beplanning deur die Departement van Binnelandse Sake en sy ondersteunende vennote. Premier Alan Winde sê die tydelike geriewe wat vir die operasie beskikbaar gestel is, is nou afgetakel. Hy sê munisipaliteite sal geen verdere vervoerlogistiek vir die repatriasie van buitelandse burgers verskaf nie:
# Die Organisasie van Petroleum-uitvoerlande en sy bondgenote, insluitend Rusland, het ingestem om olieproduksie te verhoog terwyl verkeer deur die Straat van Hormoes onder die vooroorlogse vlakke bly. Die sewe olieproduserende lidlande sal die daaglikse lewering van Augustus af met 188-duisend vate verhoog. Dit is bykomend tot soortgelyke verhogings vir Junie en Julie. Golflande se olie-uitvoere het van Mei tot Junie met meer as drie-miljoen vate toegeneem tot meer as tien-miljoen vate per dag, maar die volume bly 40-persent minder as die vooroorlogse vlakke.
# Tennis: Die sewemalige kampioen Novak Djokovic is deur na sy 17de Wimbledon-kwarteindstryd nadat hy die Russiese kwalifiseerder Roman Safiullin verslaan het. Die Serwiër het met sy 106de oorwinning Roger Federer se rekord vir wedstrydoorwinnings by die All England Club verbeter. Die verdedigende kampioen, Italianer Jannik Sinner, het met die Japannese kwalifiseerder Shintaro Mochizuki afgereken en is deur na die laaste agt. In die vroue-afdeling het Naomi Osaka van Japan die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, oorrompel, en is vir die eerste keer deur na die Wimbledon-kwarteindronde. Die Amerikaner Coco Gauff het Belinda Bencic van Switserland verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-158-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-162-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….