Nuus 08:00
BULLETIN 6 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Binnelandse Sake bespoedig die repatriasie van Malawiese en Zimbabwiese burgers
# Minstens agt is mense beseer in nog ’n Russiese aanval op Kiëf
# En krieket: Australië klop Engeland om hul sewende T20-Wêreldbeker-titel vir vroue te wen
# Die Departement van Binnelandse Sake sê een van die Zimbabwiese immigrante by die Musina-repatriasiesentrum in Limpopo word van moord verdink en is in aanhouding. Geen verdere besonderhede is oor die voorval bekend nie. Die departement het die repatriasie van Malawiese en Zimbabwiese burgers by die sentrum oor die naweek bespoedig. Limpopo se bestuurder van Binnelandse Sake, Albert Matsaung, sê meer as 80 busse het die naweek vanaf die sentrum vertrek:
# Die Werkloosheidsversekeringsfonds sê Business Unity South Africa se besluit om sy verteenwoordigers van die WVF-raad en verwante strukture by NEDLAC te onttrek, ondermyn die noodsaaklike maatskaplike dialoog tussen die regering-, sake- en arbeidsektore. BUSA sê sy besluit volg ná ses jaar van herhaaldelike waarskuwings oor wanadministrasie en voortgesette pogings om hervorming te ondersteun in die belang van werkers, werkgewers en die bestendigheid van die land se arbeidsmark. Die Fonds sê BUSA se onttrekking aan hierdie forums beperk geleenthede om bestuursuitkomste te beïnvloed deur die meganismes wat vir daardie doel geskep is.
Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging sê hy pleit steeds vir konstruktiewe betrokkenheid tussen munisipaliteite en gemeenskappe. Dit volg na die gewelddadige diensleweringsbetoging in Ratanda, in die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit in Gauteng, wat Vrydag gelei het tot lewensverlies en die afbrand van die burgemeester se eiendom. SALGA-woordvoerder, Motalatale Modiba, sê inwoners word aangemoedig om gevestigde kommunikasiekanale en openbare deelname te gebruik om hul kommer te lug:
# Rusland het vroeg vanoggend nog ‘n vlaag missiel-aanvalle op die Oekraïnse hoofstad, Kiëf, en omliggende distrikte uitgevoer en minstens agt mense beseer. Talle woongeboue is getref. Die aanvalle het plaasgevind nadat Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, gister gewaarsku het Rusland beplan ʼn massiewe nuwe aanval. Moskou het Donderdag ʼn aanval op Kiëf uitgevoer waarin minstens 30 mense dood is. Dit was die derde dodelikste aanval op die Oekraïnse hoofstad sedert die oorlog begin het. Dit kom in aanloop tot die NAVO-beraad wat môre in Ankara, Turkye, begin.
# Krieket: Australië het Engeland op Lord’s met sewe paaltjies verslaan en hul rekord met ʼn sewende T20 Wêreldbeker-titel vir vroue verbeter. Engeland se kaptein, Nat Sciver-Brunt, het ʼn onoorwonne 58 van 53 balle behaal en die gasvroue se telling na hul 20 boulbeurte was 150 vir vier. Daarna het Beth Mooney skitterend gekolf en 64 van 49 balle aangeteken. Australië het die teiken van 151 gehaal met 17 balle oor. Die Australiese kaptein, Sophie Molineux, sê sy is trots op dit wat hulle bereik het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-195-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-165-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….